Nuus 09:00
BULLETIN 14 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis duidelikheid oor die ANC se strategiese alliansie-befondsing
# President Ramaphosa brei die ondersoek na die Nasionale Loterye uit
# En die UDM sê vervoerinfrastruktuur en -afdwinging moet versterk word
# Die DA eis volle deursigtigheid van die ANC oor sy kontrak ter waarde van 190-miljoen-rand met Ezulweni Investments vir verkiesingsmateriaal wat na bewering met strategiese vennote gedeel is. Die DA-lid, Willie Aucamp, sê die reëling kan volmagpartye bevoordeel en politieke befondsingswette oortree. Hy het bevestig die party sal ‘n versoek indien volgens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om openbare vertroue te beskerm:
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na die Nasionale Loterykommissie uitgebrei. Die omvang van die oorspronklike proklamasie is uitgebrei om bedrog en korrupsie in te sluit wat verkryging by die kommissie betref. Die gewysigde proklamasie voeg ook 21 nuwe kategorieë van verkryging en kontraktering by die ondersoek. Die eenheid se aanvanklike ondersoek is verdeel in drie fases ter waarde van ongeveer twee-miljard-rand. Hy sê hy is besig om die derde fase af te handel en sal voortgaan met siviele litigasie.
# Die UDM sê Suid-Afrika se vervoerinfrastruktuur en afdwingingsmeganismes moet dringend versterk word. Dit volg op Sondag se busongeluk, wat die lewens van 42 mense, insluitend sewe kinders, in Limpopo geëis het. Intussen is 18 kinders gisteroggend in ‘n taxi-ongeluk op die N3-snelweg naby die Mariannhill-tolplaza in KwaZulu-Natal beseer. Zandile Phiri van die UDM sê gereelde voertuiginspeksies en streng nakoming van padwaardigheidstandaarde is van kritieke belang om sulke tragedies te voorkom:
# Die Franse president, Emmanuel Macron het Maandag oproepe om te bedank verwerp en sy teenstanders aangeval. Sy jongste regering word bedreig deur twee mosies van wantroue wat dit teen die einde van die week dalk tot ‘n val kan bring. Macron het in die laaste twee jaar vyf eerste ministers gehad. Baie van sy teenstanders meen sy enigste uitweg is om nuwe verkiesings uit te roep of te bedank, wat hy weier om te doen. Met sy aankoms in Egipte vir ‘n vergadering oor Gaza, het Macron sy teenstanders daarvan beskuldig dat hulle Frankryk ontwrig.
# Tennis: Vyf van die wêreld se top tien-mans neem van môre deel aan ‘n winsgewende vertoon-toernooi in Saoedi-Arabië – die sogenaamde Six Kings Slam. Die Spanjaard Carlos Alcaraz, die Italianer Jannik Sinner, die Duitser Alexander Zverev, Novak Djokovic van Serwië, die Amerikaner Taylor Fritz, asook die wêreld-nommer-25, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, ding mee om yslike prysgeld van 78-miljoen-rand. Volgens berigte sal sommige van die spelers ook enorme bedrae ontvang om deel te neem. Sinner het Alcaraz in verlede jaar se eindstryd geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-379-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-163-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….