Nuus 07:00
BULLETIN 14 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie belowe sy volle samewerking met die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee
# Die IVP doen ‘n beroep op ‘n omvattende ondersoek na die dodelike busongeluk in Limpopo
# En krieket: Proteas hervat op 216/6 op die derde oggend in Lahore
# Die Presidensie sê hy monitor noukeurig die Madlanga-kommissie en die parlement se ad hoc-komitee wat ondersoek instel na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, het aan die media gesê daar is tot dusver geen bewyse wat president Cyril Ramaphosa persoonlik betrek nie, en die president of sy kantoor het op geen stadium probeer om met die bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in te meng nie. Magwenya sê die president sal mettertyd ‘n formele antwoord aan beide liggame rig:
# Die voormalige hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, Lucky Montana, het ten sterkste ontken dat hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens geld skuld. Die agentskap het die naweek in ‘n ongekende stap ʼn nuuskonferensie gehou waar hy inligting bekendgemaak het oor Montana se belastinginligting en sy skuld van net meer as 55-miljoen-rand. Die Inkomstediens sê die stap was noodsaaklik om sy integriteit te beskerm nadat Montana hom openlik van bedrog beskuldig het. Montana sê hy is nie bang om die Inkomstediens aan te pak nie:
# Die IVP vra ʼn omvattende ondersoek na die busongeluk waarin 42 mense, insluitend sewe kinders, Sondag op die N1 buite Louis Trichardt in Limpopo dood is. Meer as 30 ander is beseer. Die meeste passasiers was Zimbabwiese en Malawiese burgers wat van die Oos-Kaap op pad was na Harare. Die IVP sê wetstoepassingsowerhede moet vasstel of die bus padwaardig en veilig was, en alle verkeers- en vervoerregulasies nagekom het. Die party dring aan op aanspreeklikheid op alle vlakke.
# Die adjunkminister in die presidensie, Nonceba Mhlauli, sal vandag ‘n G20-dialoog vir studente by Motheo TVET Kollege se NADA-kampus in Bloemfontein aanbied. Die geleentheid vorm deel van ‘n jaar lange G20-bewusmakingspoging deur die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel in vennootskap met die burgerlike samelewing, handelsondernemings en akademici. Die program sal begin met ‘n inligtingsuitstalling met regerings- en nie-regeringsorganisasies wat dienste en insigte aan studente bied.
# President Donald Trump van Amerika en leiers in die Midde-Ooste het gister tydens ʼn beraad in Egipte ʼn ooreenkoms vir die Gaza-skietstilstand onderteken. As deel van die vredesooreenkoms se eerste fase, het Hamas al 20 lewende gyselaars vrygelaat, maar die liggame van slegs vier oorlede gyselaars. Israel het in ruil daarvoor byna twee-duisend Palestynse gevangenes en aangehoudenes vrygelaat. Trump loof die ondertekening as baie belangrik en sê dit was in baie opsigte die moeilikste ooreenkoms om te bereik:
# Krieket: Suid-Afrika sal sy eerste beurt hervat op 216 vir ses op die derde oggend van die eerste toets teen Pakistan in Lahore. Dit is ‘n agterstand van 172 lopies nadat die gasheer gister uitgeboul is vir 378. Hulle het hervat op 313 vir vyf en hulle oorblywende vyf paaltjies verloor vir net 65 lopies. Suid-Afrika het goed begin, maar gereeld paaltjies verloor. Ryan Rickelton het 71 bygedra en Tony de Zorzi sal voort kolf op 81, saam met die Proteas se held van gister, Senuran Muthusamy, wat ses paaltjies geneem het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-677-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….