Nuus 06:00
BULLETIN 14 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya hou vol die WhatsApp-bewyse waarin hy betrek word is vervals
# Die Madlanga-kommissie oorweeg in camera-verhore
# En krieket: Die Protea-vroue klop Bangladesj vir ’n derde agtereenvolgende oorwinning by die Wêreldbeker
# Die geskorste nasionale adjunkkommissaris van Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, het aan die parlement se ad hoc-komitee gesê WhatsApp-boodskappe wat hom verbind met die minister van Polisie, Senzo Mchunu, en die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde, is vals. Sibiya beskryf sy verhouding met Mchunu as streng professioneel. Hy sê hy het onafhanklik die kansellasie gelas van Vusumuzi “Cat” Matlala se Medicare24-tender, wat voor sy ampstermyn toegeken is, na aanleiding van kommer oor die wettigheid daarvan:
# Die Madlanga-kommissie van Ondersoek sal na verwagting uitspraak lewer oor besware deur News24 en die Daily Maverick teen dele van die verrigtinge wat hierdie week in camera gehou word. Getuienisleiers het geslote verhore vir die res van die week versoek om getuieveiligheid en sensitiewe polisietegnieke te beskerm. Volgens berigte sal die volgende getuie, wat verbind word met die Gautengse Intelligensie-operasiespan, wat betrokke was by die arrestasies van die omstrede sakemanne Vusumuzi “Cat” Matlala en Katiso “KT” Molefe, geklassifiseerde polisietegnieke en informante-inligting bekend maak.
# Die DA se kiesafdelingshoof in Emfuleni-Noord, Kingsol Chabalala, sê die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, wat finansieel sukkel, het tussen 2022 en 2025 byna 12-miljoen-rand aan privaat grafgrawers bestee. Dit is gedoen ten spyte daarvan dat die munisipaliteit mense het wat die werk kan doen. Chabalala sê hierdie soort geldvermorsing dui op swak finansiële bestuur. Hy dring aan op ‘n onmiddellike einde aan uitkontraktering en wil hê bestaande werkers moet gebruik word om koste te bespaar en aanspreeklikheid binne die sukkelende munisipaliteit te verbeter:
# Die regering in die Wes-Kaap het ‘n historiese 34,6-persent van sy totale verkrygingsbesteding van 6,84-miljard-rand, in 2024/25 aan ondernemings in vroue-besit toegeken. Premier Alan Winde sê hierdie mylpaal dui op deursigtigheid en inklusiewe groei. Intussen het die LUR vir Finansies, Deidré Baartman, bevestig dat versoeke aan die VN en die Wêreldbank gestuur is om te bevestig dat die provinsie die eerste regering ter wêreld is wat 30-persent oorskry. Sy sê die prestasie ondersteun ook swartbesit- en jeugondernemings:
# Die Egiptiese president Abdel Fattah el-Sisi het die skietstilstandsooreenkoms tussen Israel en Hamas bestempel as ‘n ongekende prestasie. Meer as 20 wêreldleiers het gister in Egipte bymekaargekom vir ‘n vredesberaad. Al 20 lewende gyselaars wat deur Hamas in Gaza aangehou word, is vrygelaat na meer as twee jaar in gevangenskap. In ruil het Israel byna tweeduisend Palestynse gevangenes en aangehoudenes vrygelaat. Sisi sê leiers moet nou verseker dat die wapenstilstand behoue bly, en dat die liggame van die oorblywende gyselaars aan hul families terugbesorg word.
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n opwindende drie-paaltjie-oorwinning teen Bangladesj behaal en só drie agtereenvolgende oorwinnings in die Vrouewêreldbeker in Visakhapatnam verwesenlik. Shorna Akter se onoorwonne 51 het Bangladesj tot ‘n mededingende totaal van 232 vir ses aangedryf. In antwoord is die Proteas beperk tot 78 vir vyf, maar Marizanne Kapp en Chloe Tryon het ‘n vennootskap van 85 lopies aangeteken om Suid-Afrika in die wedstryd te hou. Nadine de Klerk het weer tot die redding gekom en ‘n onoorwonne 37 aangeteken om die Proteas na oorwinning te lei met nog drie balle oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-490-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-113-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….