Nuus 18:00
BULLETIN 13 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie verduidelik ‘n video van Ramaphosa buite Maumela se herehuis in Sandhurst
# Trump prys die vennootskap tussen Amerika en Israel en vier die Israelse gyselaars se terugkeer
# En krieket: Die Protea-vroue jaag ‘n wenteiken van 233 in die Wêreldbeker-wedstryd teen Bangladesj
# Die Presidensie het bewerings ontken dat president Cyril Ramaphosa die sakeman Hangwani Maumela se drieverdieping-herehuis in Sandhurst in Sandton, Johannesburg, besoek het. Dit volg na ‘n video wat soos ‘n veldbrand vesprei het wat Ramaphosa buite die eiendom wys, wat onlangs deur die Spesiale Ondersoekeenheid deursoek is. Maumela word ondersoek vir ‘n tenderskandaal van 820-miljoen-rand by die Tembisa-hospitaal. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan die media gesê die beeldmateriaal is tydens ‘n informele wandeltog in 2023 geneem en was nie ‘n amptelike besoek nie:
# Nuwe navorsing deur die Buro vir Ekonomiese Navorsing en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid dui aan dat Suid-Afrika nie angstig moet raak oor die 30-persent verhoging in Amerikaanse tariewe nie. Terwyl ongeveer 20-persent van ondernemings geraak word, ly slegs ‘n klein gedeelte groot inkomsteverliese. Die meeste groot nywerhede, insluitend pluimvee, mielies, beeste, melk en aartappels, het ‘n beperkte blootstelling aan die Amerikaanse mark. Sommige sektore, soos wyn en sitrus, kan moontlike inkomsteverliese verwag, met Wes-Kaapse plase wat ‘n moontlik vermindering van tot 32-persent in netto inkomste kan sien.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, prys die blywende vennootskap tussen Amerika en Israel en sê die twee nasies het hande gevat teen die bose. Hy het in Jerusalem die suksesvolle terugkeer van die laaste Israelse gyselaars geprys. Trump sê Israel en Amerika het saamgestaan deur die oorwinnings sowel as die ontberings en beloof ‘n toekoms van vrede, samewerking en voorspoed in die Midde-Ooste. Hy beklemtoon Israel sal vir ewig voortbestaan en floreer:
# Krieket: Die Protea-vroue jaag ‘n wenteiken van 233 in hul Wêreldbeker-wedstryd teen Bangladesj in Visakhapatnam, Indië. Bangladesj het stadig begin nadat hulle die loot gewen en besluit het om te kolf, maar het die tempo verhoog om 232 lopies vir ses paaltjies in hulle 50 boulbeurte aan te teken. Sharmin Akhter het 50 aangeteken en Shorna Akter ‘n onoorwonne 51 lopies, terwyl Nonkululeko Mlaba twee paaltjies laat kantel het. Suid-Afrika is tans vierde op die punteleer na drie wedstyde, met Bangladesj sesde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-823-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-95-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-33-sent per vat.
# En laastens, die openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, het haar kantoor se 30-jarige herdenkingskonferensie in Kaapstad geopen. Die vierdaagse geleentheid vier die instelling se rol in die versterking van Suid-Afrika se demokrasie sedert 1995. Gcaleka moedig afgevaardigdes aan om na te dink oor die beskerming van menseregte, die handhawing van die wet en die behoud van grondwetlike beginsels. Sy het hulde gebring aan vorige openbare beskermers en personeel geprys vir hul veerkragtigheid, integriteit en toewyding aan geregtigheid gedurende uitdagende tye:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….