Nuus 16:00
BULLETIN 13 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê 230-miljard-rand se belegging van die EU sal inklusiewe en volhoubare groei ondersteun
# Die staat begin met sy slotbetoog in die heropende Luthuli-ondersoek
# En drie ekonome wen vanjaar se Sveriges Riksbank-prys vir Ekonomiese Wetenskappe
# President Cyril Ramaphosa sê nuwe beleggings van die Europese Unie sal inklusiewe en volhoubare groei in Suid-Afrika ondersteun. Die EU het meer as 230-miljard-rand beloof aan projekte vir skoon energie, groen waterstof, hernubare energie en noodsaaklike minerale en entstowwe. Die befondsing sal werksgeleenthede skep, plaaslike mineraalverwerking en groenwaterstofproduksie ondersteun en paaie, hawens en digitale verbindings verbeter. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief hierdie beleggings sal Suid-Afrika se oorskakeling na ‘n lae koolstof-ekonomie ondersteun, werkers en gemeenskappe beskerm en verdere beleggings werf.
# Die polisie- en gevangenisvakbond sê sy sentrale uitvoerende komitee is bekommerd oor die moontlike gevolge van die Madlanga-kommissie van ondersoek na bewerings van misdadige bedrywighede in die strafregstelsel. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die komitee het besluit om die kommissie toe te laat om sy werk te voltooi en sal na afloop daarvan die uitkomste bespreek deur middel van die toepaslike platforms vir maatskaplike dialoog:
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg hoor tans die staat se slotbetoog aan in die heropende geregtelike doodsondersoek na die dood van die ANC-leier en Nobelpryswenner, Albert Luthuli, in 1967. Die oorspronklike doodsondersoek het bevind dat hy, sonder enige strafregtelike aanspreeklikheid deur ‘n goederetrein getref is. Die heropende ondersoek wat in April begin het, het nuwe forensiese en spoorwegbewyse ondersoek, tesame met getuienis van familielede wat die verskerpte teistering deur die veiligheidspolisie uitgewys het, nadat Luthuli die Nobelprys vir Vrede in 1961 gewen het. Die slotbetoog sal Donderdag afgehandel word.
# Netbal: Die Proteas se kaptein, Khanyisa Chawane, sê daar is waardevolle lesse te leer nadat Australië die reeks 3-0 gebuit het met ‘n oortuigende oorwinning van 65-42 in Adelaide. Die Diamonds het hul perfekte rekord teen Suid-Afrika gehandhaaf met oorwinnings in al 49 toetse. Ondanks die nederlaag het Chawane haar spanmaats se veggees geprys en sê hulle sal die ervaring gebruik om hulle bestendigheid en aanspreeklikheid te verbeter om op toekomstige kompetisies voort te bou:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-398-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-80-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: 2025 se Sveriges Riksbank-prys vir Ekonomiese Wetenskappe is toegeken aan die Amerikaners Joel Mokyr en Peter Howitt, en die Brit Philippe Aghion. Mokyr word erken vir die koppeling van tegnologiese vooruitgang aan volgehoue groei, terwyl Howitt en Aghion vereer word vir hul kreatiewe vernietigingsteorie, wat wys hoe vernuwing verouderde produkte vervang en produktiwiteit verhoog. John Hassler van die Nobelkomitee sê hulle werk beklemtoon die belangrikheid van vernuwing in die verbetering van lewenstandaarde en die handhawing van wêreldwye ekonomiese groei:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….