Nuus 14:00
BULLETIN 13 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa gaan getuig in die Cradock Vier-ondersoek in die Hooggeregshof in Gqeberha
# ActionSA sê die ANC het die wet oortree met die Ezulweni Investments-skuld
# En krieket: Australië se kaptein erken hy gaan waarskynlik nie fiks wees vir die begin van die reeks om die As nie
# Die UDM-leier, Bantu Holomisa, sal na verwagting getuig in die heropende ondersoek na die moorde op die Cradock-Vier in 1985, wat van vandag tot die 24ste in die Hooggeregshof in Gqeberha in die Oos-Kaap plaasvind. Hy verskyn as die voormalige voorsitter van die Transkeise militêre raad, met die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock, en die oudminister van Swart Onderwys, Barend du Plessis, wat na verwagting ook sal getuig. Die families van Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto hoop die derde geregtelike doodsondersoek sal toerekenbaarheid bring.
# ActionSA sê na byna twee jaar waarin hy die ANC se skuldooreenkoms met Ezulweni Investments uitdaag, het hy nou die vertroulike ooreenkoms in die hande gekry. Die party se voorsitter, Michael Beaumont, sê die ooreenkoms toon die ANC het die Wet op die Befondsing van Politieke Partye oortree. Hy sê die ANC het vir sy verkiesingsmateriaal vir 2024 ‘n bestelling van 190-miljoen-rand geplaas om sy ou skuld met Ezulweni af te skryf, maar die goedere is onafhanklik slegs 125-miljoen-rand werd:
# Suid-Afrika is gereed om van vandag tot Vrydag die laaste G20-omgewings- en klimaatvolhoubaarheids-werkgroepvergaderings in Kaapstad aan te bied. Die vergaderings sal ook die tiende herdenking van die Paryse Ooreenkoms vier, terwyl Suid-Afrika sy Wet op Klimaatsverandering, die beleggingsplan vir Billike Energie-oordrag en bioverskeidenheids-proramme sal uitlig. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sal die besprekings lei, wat ten doel het om die G20-ministeriële verklaring oor globale omgewingsbestuur aan te neem:
# Krieket: Die Australiese kaptein, Pat Cummins, het toegegee dat hy waarskynlik nie fiks sal wees vir volgende maand se reeks om die As teen Engeland in Perth nie. Die 32-jarige snelbouler het Julie laas gespeel toe hy sy rug beseer het in ‘n toets teen die Wes-Indiese Eilande. Cummins wat as oefening begin draf het, sê hy het minstens vier weke se boulwerk in die nette nodig om vir ‘n toets voor te berei:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-en-41-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-72-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Groep toegewyde atlete maak reg om volgende Woensdag, 700 kilometer van Greenfields in Ekurhuleni na Durban te stap om fondse in te samel vir die Pariio-gemeenskapsvaardigheidsentrum. Die sentrum sal weens die hoë werkloosheidsyfer praktiese opleiding vir vaardighede en werkgeleenthede aanbied vir jong mense in Suid-Afrika. Die sentrum sal begin met klasse vir bak en naaldwerk. Daar is tans meer as 60 atlete wat virtueel gaan saamstap as deel van die fondsinsamelingsveldtog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….