Nuus 08:00
BULLETIN 13 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# # Die Progressive Business Forum wil regstappe doen oor bewerings teen Ramokgopa
# ‘n Elfjarige seun skiet per ongeluk ‘n plaaswerker dood in Limpopo
# En China waarsku teen vergeldingstappe oor Trump se dreigement van 100-persent-tariewe
# Die Progressive Business Forum sê hulle sal regstappe doen teen diegene agter die lasterlike bewerings teen hulleself, en die voorsitter, ANC-tesourier-generaal, dr. Gwen Ramokgopa. Dit volg na boodskappe op sosiale media die ronde gedoen het wat beweer dat Ramokgopa en sakeman Groovin Nchabeleng onwettige betalings van die vermeende onderwêreldfiguur Vusimuzi “Cat” Matlala ontvang het. Die Forum het na bewering ook onwettige skenkings ontvang deur geleenthede wat verband hou met die ANC-tesourier-generaal se kantoor. Ramokgopa het aan Newzroom Afrika gesê dat ‘n forensiese verslag hulle van oortreding vrygespreek het:
# Die DA vra in ‘n brief aan die voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Sport, Kuns en Kultuur, Joe McGluwa, dat minister Gayton McKenzie en die Mzansi Golden Economy-beoordelingspaneel voor die Parlement gedaag word. Leah Potgieter van die DA sê die voortgesette ontduiking van toesig kan nie toegelaat word terwyl openbare fondse na bewering vir politieke veldtogte gebruik word nie:
# ‘n Elfjarige seun en sy pa verskyn na verwagting vandag in die Thabazimbi-landdroshof in Limpopo in verband met ʼn plaaswerker se dood. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die seun volgens berigte die naweek tarentale op die plaas in Thabazimbi geskiet het toe die 30-jarige plaaswerker noodlottig gewond is. Die polisie sê die seun se pa is gearresteer en aangekla van nalatige hantering van ʼn vuurwapen. Limpopo se polisiekommissaris, Thembi Hadebe, waarsku ouers om wapens weg van kinders te hou.
# Die Chinese regering waarsku hy sal optree indien president Donald Trump van Amerika voortgaan met sy dreigement om tariewe van 100-persent op Chinese invoere in te stel. Trump het verlede week teruggekap nadat Beijing sy reëls vir die uitvoer van skaars aardmetale verskerp het en sê dié land raak vyandiggesind en probeer die wêreld gevange hou. China se ministerie van Handel sê indien Amerika voortgaan om eensydig op te tree, sal Beijing soortgelyke maatreëls instel om sy wettige regte en belange te beskerm.
# Gholf: Die Duitser, Alex Cejka, het een onder baansyfer 71 aangeteken om die PGA-toerkampioenskap se SAS-kampioenskap in Noord-Carolina met drie houe te wen. Dis die 54-jarige speler se eerste titel sedert die 2023 Senior Ope Kampioenskap. Die Suid-Afrikaner, Ernie Els, is tweede op vier onder 68, wat vanjaar sy 12de posisie onder die top 10 en sy derde naaswenner-posisie is. Die Nieu-Seelander Steven Alker is derde. Cejka sê hy is trots dat hy in moeilike situasies gefokus gebly het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-303-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-47-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….