Nuus 08:00
BULLETIN 12 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bevestig Lucky Montana het 5,4-miljoen-rand aangebied om sy belastingrekening van 55,1-miljoen-rand te vereffen
# Donald Trump sê dokter sy gesondheid is uitstekend
# En rugby: Suid-Afrikaanse spanne behaal gemengde welslae in die naweek se VRK-wedstryde
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het bevestig die voormalige uitvoerende hoof van die PRASA, Lucky Montana, het in Augustus vanjaar 5,4-miljoen-rand as ‘n teenaanbod gemaak om sy belastingrekening van 55,1-miljoen-rand te vereffen. Dit is gister tydens ‘n spesiale media-inligtingsessie deur die SAID-woordvoerder, Siphithi Sibeko, onthul. Hy het gesê ingevolge die Belastingadministrasiewet is dit ‘n voorvereiste vir die Inkomstediens om ‘n teenaanbod te oorweeg, indien belastingskuld nie betwis word nie. Hy sê Montana se bewerings is vals dat die Inkomstediens hofuitsprake gemanipuleer het om sy belastingrekening te regverdig:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê sy departement werk nou saam met die polisie, die Oos-Kaapse regering en die Universiteit van Fort Hare se sekuriteitspanne om kalmte te herstel en studente en personeel te beskerm. Manamela het die media ingelig oor die situasie by Fort Hare na verwoestende brandstigtingaanvalle tydens studentebetogings. Die minister sê wat by Fort Hare gebeur het, is nie betogings nie, maar misdadig:
# Die DA in Tshwane sê die voortgesette kragonderbrekings raak besighede in Rosslyn. Die party sê terwyl die ANC-regering in Tshwane die belangrikheid van ekonomiese groei verkondig, misluk hulle met die lewering van basiese dienste wat nodig is om ‘n omgewing vir ekonomiese groei bevorder. Themba Fosi van die DA sê in die twee weke sedert die DA se besoek aan Rosslyn het die industriële park byna 60 uur se kragonderbrekings beleef, wat min of meer gelykstaande is aan fase 3-beurtkrag:
# Die Amerikaanse president Donald Trump se gesondheid is Vrydag na ‘n mediese ondersoek by die Walter Reed Nasionale Militêre Mediese Sentrum as uitsonderlik beskryf. Trump se dokter, Sean Barbabella, sê in ‘n memo wat deur die Withuis vrygestel is, Trump toon sterk kardiovaskulêre, long, neurologiese en fisiese funksies. Volgens die memo het Trump ook voorkomende gesondheidsondersoeke en immuniserings ontvang, insluitend jaarlikse griep- en opgedateerde COVID-19-aanspoorinentings, ter voorbereiding van sy komende internasionale reis.
En ten slotte rugbynuus:
# Alhoewel die Stormers onoorwonne bly in die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle die naweek die Walliese span Scarlets met 34-0 verslaan het, was die ander Suid-Afrikaanse spanne nie so gelukkig nie. In Belfast het ‘n begeesterde Ulster-span die Bulle gisteraand met 28-7 afgeransel, die Haaie het met 31-5 teen Leinster verloor, en Leeus is in Italië met 41-15 deur Benetton kafgedraf. Na afloop van die naweek se wedstryde is die Stormers boaan die punteleer met 14 punte, terwyl die Bulle na die sesde plek teruggesak het.
# En, die Springbok-losskakel Manie Libbok is amptelik weg by die Stormers en het sy skuif na die Hanazono Kintetsu Liners in die Japannese Rugbyliga-een bevestig. Libbok, wat oor die naweek op sosiale media sy dankbaarheid uitgespreek het, het ‘n belangrike rol gespeel in die Stormers se onlangse sukses. Die 28-jarige spelskepper, bekend vir sy aanvallende vermoëns en akkurate skopskoen, het die Kaapse span in 2021-22 na hul eerste Vodacom VRK-titel gelei. Hy begin nou ‘n nuwe hoofstuk in die buiteland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….