Nuus 11:00
BULLETIN 11 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO verwelkom klopjagte en beslagleggings deur die Valke en die Spesiale Ondersoekeenheid in Gauteng
# Die GOOD Party sê dis te gou om nou al die wapenstilstand in Gaza te vier
# En, op die Internasionale Dag van die Meisie vra die UDM Vroue-organisasie vra vir gelyke belegging in onderwys vir meisies
# Die Azanian People’s Organisation verwelkom die klopjagte en beslagleggings deur die Valke en die Spesiale Ondersoekeenheid op persele wat verband hou met die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya en die sakeman Hangwani Maumela. Die AZAPO-woordvoerder Nosipiwo Manona sê hulle beweerde rol in misdaad moet deeglik ondersoek word:
# Die GOOD Party verwelkom die wapenstilstand in Gaza. Volgens die ooreenkoms sal die volksmoord in Gaza opskort word, Hamas sal Israeliese gyselaars wat hulle steeds aanhou, vrylaat, en Israel sal Palestynse politieke gevangenes vrylaat. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron sê dit is kritieke stappe om die bloedvergieting en vernietiging te stop, maar tot daar sekerheid is oor die toekoms van die mense in Gaza, is dit nog te vroeg vir ongebreidelde vieringe:
Tienduisende Palestyne het intussen na Noord-Gaza teruggekeer na die Israeliese weermag se aankondiging van ‘n wapenstilstand, wat bemiddelaars hoop ‘n einde sal bring aan die tweejaar-lange konflik. Israel het gisteroggend tot ‘n wapenstilstandooreenkoms met Hamas ingestem. Gaza se Hamas-beheerde burgerlike verdedigingsagentskap sê nagenoeg 200-duisend mense het nou na die noorde van Gaza teruggekeer sedert die wapenstilstand aangekondig is. As deel van die ooreenkoms het Israeliese troepe teruggetrek na nuwe ooreengekome posisies, terwyl Hamas na verwagting Maandag die 20 oorlewende Israeliese gyselaars en die 28 wat reeds dood is, sal vrylaat.
# Die Gautengse Omgewingsdepartement, gelei deur die LUR, Ewan Botha, het ‘n onwettige perseel in Wyk 82, Geluksdal in Brakpan afgetakel, waar bande verbrand en afval geberg is. Meer as 400 bande is sonder toestemming verbrand om metaal vir skroot te onttrek. Owerhede het beslag gelê op die bande en ‘n afleweringsvragmotor. Botha het ook ‘n verlate sakepark met watergevulde slote gevind. Hy het Ekurhuleni aangespoor om die terrein te beveilig, afvalversameling op te gradeer en herwinning met die nodige regulasies te magtig.
# Motorsport: Ducati se Italiaanse toetsbestuurder, Michele Pirro, sal die beseerde MotoGP-wêreldkampioen Marc Marquez vervang in volgende week se Australiese Grand Prix by Phillip Island. Die Spanjaard is verlede naweek tydens die Indonesiese Grand Prix in ‘n ongeluk beseer nadat hy verlede maand sy sewende wêreldtitel in Japan verower het. Hy sal na verwagting ook die Maleisiese Grand Prix misloop. Dit is nog nie bekend of Pirro hom in Maleisië ook sal vervang nie. Die 39-jarige Pirro het verlede jaar laas deelgeneem vir die VR46-span.
# En ten slotte, te midde van die wêreldwye herdenking van die Internasionale Dag van die Meisie, vra die UDM-vroueorganisasie gelyke belegging in onderrig vir meisies, veral in landelike en lae-inkomste gemeenskappe. Die sekretaris-generaal van die UDM-vroueorganisasie, Thandi Nontenja, sê meisies regdeur Suid-Afrika leef steeds tussen beloftes en vooroordele. Sy sê die organisasie vra geslags-sensitiewe begrotings op alle vlakke van regering ten einde programme te finansier wat die lewens van vroue en meisies direk sal verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….