Nuus 07:00
BULLETIN 11 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Masemola sê hy het persoonlik ingegryp om die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde te stop
# Die NSRI verwelkom ‘n Starlink belegging van 2,5-miljard-rand in Suid-Afrika
# En rugby, die Stormers klop Scarlets met ‘n oorheersende vertoning in hul VRK-botsing
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê hy het sy bes gedoen om die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde te stop. Masemola het voor die Parlement se ad hoc-komitee oor polisie-kaping getuig en sê hy het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se besluit om die eenheid te ontbind bevraagteken, en gewaarsku soortgelyke optrede teen die taakspan vir plaasmoorde sou woede en verontwaardiging in landbouverenigings ontketen het:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut verwelkom Elon Musk se Starlink-plan om sy bedrywighede uit te brei en 2,5-miljard-rand in Suid-Afrika te belê, en beskryf dit as ‘n deurbraak vir reddingskommunikasie ter see. Hulle glo die vennootskap sal die NSRI-bote met satelliet-internet toerus, wat reddingswerkers selfs in afgeleë waters sal toelaat om in aanraking te bly. Andrew Ingram van die instituut sê die tegnologie sal koördinering, veiligheid, en reaksietye tydens noodgevalle verbeter, en sal help om meer lewens langs die kus te red:
# Die Departement van Gesondheid en Welstand in die Wes-Kaap waarsku ouers om besonder versigtig te wees met gevalle van vergiftiging wat gedurende skoolvakansies toeneem. Tussen Januarie en Junie vanjaar is meer as ses-duisend vergiftigingsgevalle aangemeld, met meer as 500 wat verbind word met items soos bleikmiddels, skoonmaakmiddels en lugverfrissers. ‘n Spesialis aan die Tygerberg Gif-inligtingsentrum, Cindy-Lee Golding, moedig ouers aan om skoonmaakmiddels veilig te bêre, kinderveilige doppies te gebruik en kinders oor huishoudelike chemiese gevare in te lig:
# Mense in Gaza trotseer hulle wanhopige werklikheid ná twee jaar van meedoënlose Israelse aanvalle, ondanks die aanvaarding van ‘n skietstilstand. Die Nood-rampkomitee het sy oproep vir skenkings hernu om sukkelende gesinne te help. Die desperate vraag na humanitêre hulp sal na verwagting toeneem terwyl volgelaaide vragmotors gereed staan by grense met lewensreddende voedsel, water, medisyne en noodsaaklike voorrade. Die organisasie sê meer as twee-miljoen-mense worstel met uiterste voedselonsekerheid. Die komitee, wat deur die Verenigde Nasies gesteun word, het in Augustus hongersnood bevestig in Gaza-stad en omliggende gebiede.
Ten slotte, rugbynuus:
Die Stormers het die begin van hul Europese toer in die Verenigde Rugbykampioenskap sterk begin met ‘n deurslaggewende bonuspunt-oorwinning van 34-0 teen die Scarlets Vrydag in Llanelli. Die Kaapse span se voorspelers was meedoënloos en het met kragtige spel in die vaste fasette en uitstekende verdediging die Walliese span vir die volle 80 minute sonder punte gehou. Drieë deur Evan Roos, Paul de Villiers, Ruben van Heerden, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Imad Khan het ‘n meedoënlose vertoning afgerond en plaas die Stormers nou tydelik bo-aan die punteleer.
En, Westelike Provinsie het meesterlik in die laaste wedstryd van die SA Rugby onder-20 Vroueweek gespeel om die Blou Bulle met 33-0 te verslaan by Queens High School in Johannesburg. Die toernooi was uiters suksesvol met 14 spanne wat ‘n bemoedigende vertoning as die volgende geslag van die vrouespel gelewer het. Die laaste dag het aan die verwoestende WP behoort. Hulle het hulle teenstanders met altesaam 134-8 oorheers in hulle drie wedstryde, 20 drieë gedruk en slegs een afgestaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….