Nuus 16:00
BULLETIN 10 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die omstrede sakeman Katiso “KT” Molefe kry borgtog van 400-duisend-rand
# Masemola waarsku Suid-Afrika kan verklikkers nie daadwerklik beskerm nie
# En rugby: Die Bulle en die Stormers is boaan die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer na twee rondes
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het 400-duisend-rand se borgtog aan Katiso “KT” Molefe toegestaan en die Landdroshof in Alexandra se vorige beslissing tersyde stel. Molefe staan tereg op aanklagte wat verband hou met die moord op DJ Sumbody, en beweerde bande met ‘n misdaadkartel bekend as “The Big Five”, wat by tenderbedrog betrek word. Regter Brad Wanless het Molefe beveel om drie keer per week by die Morningside-polisiestasie aan te meld, en hy mag slegs met toestemming na Welkom reis vir sake:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê daar is op die oomblik geen doeltreffende meganisme om fluitjieblasers in Suid-Afrika te beskerm nie. Hy getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek. Masemola het vrae beantwoord oor Babita Deokaran, wat in 2021 vermoor is nadat sy onreëlmatighede by die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni, Gauteng, blootgelê het. Hy sê hy het eers na haar dood van haar status as verklikker gehoor en glo nie hy het haar in die steek gelaat nie:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor sê Suid-Afrika het ongeveer 89-miljard-rand in onopgeëiste voordele. Standard Bank het aangekondig hy het die afgelope jaar 100-miljoen-rand aan duisende Suid-Afrikaners terugbetaal, waarvan baie onbewus was dat fondse aan hulle verskuldig is. In samewerking met die opsporingsagentskap, Reunyte, het die bank se internet-gebaseerde stelsel kliënte gehelp om voordele, hoofsaaklik onbetaalde pensioene, te eis. Die hoof van Digitale en e-Handel, Belinda Rathogwa, sê die mylpaal herstel vertroue en bied lewensveranderende verligting aan begunstigdes.
# Rugby: Twee Suid-Afrikaanse spanne, die Bulle en die Stormers, is boaan die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer voor die begin van die derde ronde. Albei spanne het hulle eerste twee wedstryde gewen, maar die Bulle is eerste na twee bonuspunt-oorwinnings teen die Stormers se een. Die Stormers speel vanaand teen Scarletts in Llanelli, Wallis, terwyl die Bulle môreaand in Ierland teen Ulster speel. Die Haaie speel môre teen die verdedigende kampioen, Leinster, ook in Ierland, terwyl die Leeus in Italië is vir hule wedstryd teen Benetton.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-636-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-985-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige minister van Buitelandse Sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het die ontslape Suid-Afrikaanse ambassadeur na Frankryk, Nathi Mthethwa, geloof vir sy nalatenskap van ubuntu. Dlamini-Zuma het tydens die gedenkdiens deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking gesê Mthethwa se wedloop was kort, maar het indruk gemaak. Sy het sy intellek, nederigheid en diens geprys en gesê hy sal onthou word as een van die ANC-helde wat Suid-Afrika se demokratiese reis gevorm het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….