Nuus 15:00
BULLETIN 10 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cele sal sy verbintenis met “Cat” Matlala openbaar indien hy voor die Madlanga-kommissie verskyn
# Standard Bank betaal 100-miljoen-rand se onopgeëiste voordele aan Suid-Afrikaners uit
# En New York se prokureur-generaal word aangekla van bedrog
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, sê enige inligting oor sy verbintenis met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala sal volledig bekend gemaak word indien hy gedagvaar word om voor die Madlanga-kommissie of die Parlement se ad hoc-komitee te verskyn. Hy word betrek in getuies se verklarings in verband met bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, oor politieke inmenging in polisie-sake. Cele het aan Newzroom Afrika gesê die fokus is op misdaadbekamping en om Suid-Afrikaners te verdedig:
# Die DA veroordeel oproepe deur die polisiekomissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, om joernaliste te ondersoek en tronk toe te stuur vir waninligting. Willie Aucamp van die party beklemtoon mediavryheid is ‘n hoeksteen van demokrasie, en noodsaaklik om korrupsie, insluitende skandale soos die korrupsie by die Tembisa-hospitaal in Gauteng te ontbloot. Aucamp sê terwyl die DA selfregulering van die media ondersteun, beloof die party om joernaliste se veiligheid, die onafhanklikheid van die media en die publiek se reg tot akkurate inligting te beskerm:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor sê Suid-Afrika het ongeveer 89-miljard-rand in onopgeëiste voordele. Standard Bank het aangekondig hy het die afgelope jaar 100-miljoen-rand aan duisende Suid-Afrikaners terugbetaal, waarvan baie onbewus was dat fondse aan hulle verskuldig is. Die bank se internet-gebaseerde stelsel, in samewerking met die opsporingsagentskap Reunyte, het kliënte gehelp om voordele, hoofsaaklik onbetaalde pensioene, te eis. Die hoof van Digitale en e-Handel, Belinda Rathogwa, sê die mylpaal herstel vertroue en bied lewensveranderende verligting aan begunstigdes.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het New York se prokureur-generaal, Letitia James, van bedrog aangekla. Die aanklag van vyf bladsye beskuldig haar dat sy in leningsdokumente beweer het sy gaan ‘n huis wat sy in Norfolk, Virginia, gekoop het as tweede woonhuis gebruik, maar het dit eerder as belegging vir verhuring gebruik. Aanklaers sê dit het haar toegelaat om gunstige leenvoordele te kry. James sê die aanklag is ‘n voortsetting van president Donald Trump se desperate magstryd met die regstelsel:
# Tennis: Arthur Rinderknech van Frankryk het aangesluit by sy neef, Valentin Vacherot, in die halfeindronde van die Sjanghai Meesters, toe hy nog ‘n gekeurde speler, Felix Auger-Aliassime van Kanada, geklop het. Rinderknech, wat die toernooi as nommer 54 op die wêreldranglys begin het, het ‘n droomlopie in China, insluitend ‘n oorwinning oor die wêreld-nommer-drie, Alexander Zverev van Duitsland. Vacherot, van Monaco, het Holger Rune van Denemarke vroeër geklop. Die neefs speel nie in die halfeindronde teen mekaar nie.
# En die die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-475-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-995-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….