Nuus 14:00
BULLETIN 10 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola sê hy kan nie kommentaar lewer oor die ondersoek na minister Senzo Mchunu nie
# COSATU vra die Spesiale Ondersoekeenheid om voort te gaan met bate-beslagleggings op betrokkenes by die Tembisa-skandaal
# En die UDM sê vrede in die Midde-Ooste sal slegs deur geregtigheid bereik word
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die voortgesette ondersoek na die minister van Polisie, Senzo Mchunu, nie. President Cyril Ramaphosa het Mchunu in Julie op spesiale verlof geplaas oor bewerings van ‘n sameswering met die omstrede sakemanne Vusimuzi “Cat” Matlala en Katiso “KT” Molefe, wat daarvan beskuldig word dat hulle misdaadsindikate bestuur en met ondersoeke inmeng. Masemola het onthul misdaadkartelle beïnvloed wie die polisie lei en probeer gereeld om kommissarisse uit te skop:
# COSATU vra die Spesiale Ondersoekeenheid en samewerkende wetstoepassingsagentskappe om voort te gaan met die beslaglegging op gesteelde bates van betrokkenes by die Tembisa-hospitaalskandaal. ‘n Klopjag is gister gedoen op Hangwani Maumela se luukse eiendom in Sandton. COSATU se woordvoerder, Zanele Sabela, het die SOE en ander agentskappe versoek om te verseker skuldiges word vervolg en sit ‘n lang tyd agter tralies:
# Die UDM sê vrede in die Midde-Ooste sal slegs deur geregtigheid en respek vir menseregte bereik word. Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê die party salueer Mandla Mandela, Zukiswa Wanner, Carolyn Shelver, Zaheera Soomar, Fatima Hendricks en Reaz Moola vir hul dapperheid en solidariteit met die mense van Palestina. Hy sê Hendricks, ‘n kankeroorlewende, het vertel dat haar hijab afgeruk is en sy tydens aanhouding deur soldate bespot is:
# Padwedlope: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die Streek 5-marathon gaan nie net oor hardloop nie, maar om aan die wêreld die krag, eenheid en talent van Afrika te wys. Die marathon, wat deur die Afrika-unie se Sportraad georganiseer is, word Sondag in Tshwane gehou. Die hoofitem is die halfmarathon oor 21,1-kilometer, met die mans- en vroue-wenners wat elkeen 50-duisend-rand ontvang. McKenzie sê die marathon is nie slegs vir elite-atlete nie, maar vir almal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-311-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-999-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Venezuela se opposisieleier, Maria Corina Machado, het 2025 se Nobelprys vir Vrede gewen vir haar dapper stryd om demokrasie in haar land te herstel. Wêreldwye aandag rondom vanjaar se prys het ook gevolg op bespiegelings oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se langdurige strewe om die eer te beklink. Jorgen Watne Frydnes van die Nobelkomitee beskryf Machado as ‘n verenigende leier wat stembriewe bo koeëls verkies in die stryd vir vrye en regverdige verkiesings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….