Nuus 12:00
BULLETIN 10 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# WaterCAN sê Johannesburg se waterkrisis is ‘n menseregte-noodgeval
# Sokker: Bafana se kaptein besef wat op die spel is in die Wêreldbeker-kwalifiseerders
# En ‘n Chinese man leef langer as 170 dae ná ‘n varklewer-oorplanting
# WaterCAN sê die Stad Johannesburg se waterkrisis is ‘n menseregte-noodgeval wat lewens, voortbestaan en inwoners se waardigheid bedreig. Die organisasie gaan volgende maand by burgemeester Dada Morero se kantoor betoog vir watergeregtigheid. Die metro ondervind ‘n voortslepende waterkrisis weens verouderde infrastruktuur en onvoldoende onderhoud weens begrotingsbeperkings. Die uitvoerende bestuurder van WaterCAN, Ferrial Adam, sê onderbediende gemeenskappe word veral deur die onbetroubare watervoorsiening geraak:
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskaps-omgewingsinstituut herhaal sy waarskuwing oor Eskom se omstrede plan vir die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad. Die Nasionale Kernreguleerder sal waarskynlik die 20-jaar verlenging van die bedryfslisensie vir Eenheid 2 goedkeur. Francesca de Gasparis van die instituut sê die kern van die probleem is Eskom se ontleding – ‘n nuwe ingenieursverslag wat die toestand van Eenheid 2 ontleed deur data van die heeltemal verskillende Eenheid 1-reaktor te skat:
# Die GOOD-party het die Spesiale Ondersoekeenheid se klopjag op die sakeman Hangwani Maumela se herehuis in Sandton beskryf as ‘n stap in die rigting van geregtigheid. Daar is beslag gelê op drie luukse motors, kunswerke en ontwerpersmeubels. Maumela word betrek by drie sindikate wat 820-miljoen-rand se bedrieglike kontrakte met die Tembisa-hospitaal beplan het. Sekretaris-generaal Brett Herron sê die wiele van geregtigheid draai wel stadig, maar darem, en vra dat alle betrokkenes vervolg word. Hy sê die vermoorde verklikker Babita Deokaran se opoffering moet geëer en openbare vertroue herstel word.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê Wêreldbeker-kwalifisering is steeds in hulle hande in vanaand se deurslaggewende Groep C-kragmeting met Zimbabwe in Durban. Suid-Afrika was boaan die punteleer met 17 punte, maar het drie punte verbeur vir die gebruik van ‘n ontoelaatbare speler teen Lesotho in Maart. Die span is nou gelyk met Benin op 14 punte en agter op doelgemiddeld. Bafana se laaste kwalifiseringswedstryd is Dinsdag teen Rwanda. Williams sê hulle weet wat op die spel is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-293-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-986-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Dokters in China het ‘n geneties-aangepaste varklewer oorgeplant in ‘n 71-jarige man en hy het 171 dae ná die prosedure geleef. Kenners sê die nuwe studie dui aan vark-na-mens-leweroorplantings lyk belowend vir die gebruik om mense met ‘n ernstige lewertoestand te help om aan die lewe te bly tot hul eie lewer herstel het of tot wanneer ‘n menslike lewer beskikbaar is. Wetenskaplikes ondersoek reeds vir dekades alternatiewe, insluitend varkorgane, omdat hul soortgelyk aan menslike organe is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….