Nuus 08:00
BULLETIN 10 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering is verbind tot die bevordering van handel met toegevoegde waarde
# Die Spesiale Ondersoekeenheid wil 900-miljoen-rand herwin uit sy Tembisa-hospitaalsaak
# En Gemengde Gevegskuns: Billy Oosthuizen is die nuwe EFC Interim Veergewigkampioen
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging sê onlangse ontwikkelinge in wêreldhandel, wat tariefverhogings insluit, het die dringende behoefte vir Suid-Afrika om sy markte te diversifiseer, beklemtoon. Amerika het in Augustus wederkerige tariewe van 30 persent op Suid-Afrikaanse uitvoere ingestel. Die departement se adjunkminister, Zuko Godlimpi, sê groter handel met Afrika, die benutting van internasionale handelsooreenkomste, die uitbreiding van waardetoegevoegde handel in goedere en dienste, en die aanspreek van sleuteluitdagings, soos toegang tot finansiering, is noodsaaklik. Hy sê die regering bevorder samewerking tussen sake en arbeid vir volhoubare uitvoergedrewe groei.
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se stafhoof, Cedric Nkabinde, het die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, se aansprake oor sy kwalifikasies as kwaadwillig afgemaak. Nkabinde sê Mkhwanazi het ‘n persoonlike vendetta teen hom en probeer om sy naam te beswadder. Hy hou vol hy het ‘n B.Tech-graad in polisiëring, jare se ervaring in ondersoeke en bestuur, en het voldoen aan al die vereistes deurr Menslike Hulpbronne en die Departement van Staatsdiens en Administrasie vir sy aanstelling as personeelhoof:
# Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, advokaat Andy Mothibi, sê hulle beplan om sowat 900-miljoen-rand te verhaal van die sindikaat wat betrokke was by die verduistering van miljarde uit die Tembisa-hospitaal deur middel van bedrieglike verkrygingskemas. Luukse motors was onder die items wat gister tydens ‘n klopjag uit ‘n herehuis in Sandton gekonfiskeer is wat gekoppel is aan Tembisa-hospitaal se tendermagnaat, Hangwani Maumela. Hy het na bewering 41 maatskappye gebruik om 820-miljoen-rand oor twee jaar deur bedrieglike kontrakte te buit. Mothibi sê ‘n klopjag is ook by ‘n motorhandelaar in Mpumalanga uitgevoer:
# Die Israelse regering het die eerste fase van die 20-punt Gaza-vredesplan goedgekeur wat sal lei tot die vrylating van alle Israeliese gyselaars wat deur Hamas aangehou word. Met dié goedkeuring tree ‘n wapenstilstand onmiddellik in werking. Die ooreenkoms sluit ook die onttrekking van Israelse magte uit die Gazastrook in, en humanitêre hulp wat Gaza binnekom, sal toeneem tot soveel as 600 vragmotors per dag. Die Israeliese premier Benjamin Netanyahu sê dit is ‘n betekenisvolle ontwikkeling:
# Gemengde gevegskuns: Billy Oosthuizen van Suid-Afrika is as die nuwe EFC interim -veergewigkampioen by die WSB EFC-arena in Johannesburg gekroon. Die hoofgeveg tussen Oosthuizen en die Zambiër Ken Sekeletu het in omstredenheid geëindig to Sekeletu in die derde ronde gediskwalifiseer is weens herhaalde onwettige houe. Sekeletu het die veergewigtitel in Maart teen Roedie Roets gewen. Oosthuizen wat ‘n gesoute veteraan is met 15 gevegte in die EFC kryt kom nou teen of Boyd Allen of Vince Bembe te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-405-dollar. Die prys van goud is drieduisend-973-duisend-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….