Nuus 06:00
BULLETIN 10 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya sê hy sal nie bedank te midde van ernstige bewerings nie
# Von der Leyen van die EU oorleef twee mosies van wantroue in die Parlement
# En krieket: Die Protea-vroue klop Indië om ’n tweede oorwinning by die Wêreldbeker te verseker
# Die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris vir misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, sê hy sal nie bedank nie en daag owerhede uit om hom af te dank. Die nasionale Ingrypingseenheid, Spesiale Taakmag en Misdaadintelligensie het gister op sy huis in Centurion in Gauteng toegeslaan en verskeie elektroniese toestelle gekonfiskeer. Die operasie vorm deel van ‘n ondersoek na bewerings van korrupsie, geldwassery en regsverydeling. Sibiya verwys na die klopjag as magsmisbruik:
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê hy het die plan om die taakspan vir politieke moorde te ontbind twee keer verwerp omdat hy nie ingelig is oor die redes vir die opdrag nie. Masemola het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy verkies ‘n behoorlike, geleidelike proses eerder as ‘n skielike ontbinding. Hy sê hy was geskok toe hy van die minister van Polisie, Senzo Mchunu se opdrag hoor terwyl hy met verlof was:
# Die DA sê die onmiddellike staking van alle bedrywighede by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap is kommerwekkend. Dit volg op gewelddadige betogings by die Alice-kampus, wat daartoe gelei het dat verskeie geboue aan die brand gesteek is. Studente betoog sedert Maandag en eis dat die VSR-verkiesings in die maand gehou word, en eis ook dat die visekanselier, professor Sakhela Buhlungu, bedank. Delmaine Christians van die DA sê wettige frustrasies van studente kan nie geweld en vernietiging regverdig nie:
# Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het Donderdag gemaklik twee pogings om haar te verwyder oorleef toe die Europese Parlement mosies van wantroue van regse en linkse groepe verwerp het. Beide sensuurmosies het Von der Leyen gekritiseer omdat sy ‘n ongebalanseerde tariefooreenkoms met die Verenigde State aanvaar het en ‘n handelsooreenkoms met die Suid-Amerikaanse blok Mercosur voorgestel het wat, volgens kritici, boere en die omgewing bedreig. Die Europese Parlement sal in die komende maande stem oor die VSA- en Mercosur-ooreenkomste, maar die uitkoms is onseker.
# Krieket: Suid-Afrika het hul tweede oorwinning in die Vrouewêreldbeker behaal deur die toernooi-medegasvrou, Indië met drie paaltjies in Visakhapatnam te verslaan. Richa Ghosh het 94 lopies van 77 lopies aangeteken en ‘n vennootskap van 88 om die agtste paaltjie met Sneh Rana gedeel om Indië te help om 251 lopies te behaal. Chloe Tryon het drie paaltjies geneem. In antwoord hierop het die Proteas tot 142 vir ses teruggesak, met kaptein Laura Wolvaardt wat 70 lopies aangeteken het. Die veelsydige speler Nadine de Klerk het met ‘n briljante onoorwonne 84 lopies van 54 balle gehelp om Suid-Afrika te laat wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-590-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-982-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Drie-honderd-38 persone en organisasies is benoem vir vanjaar se Nobelprys vir Vrede, wat vanoggend in Oslo, Noorweë, toegeken word. Dit is ‘n beduidende toename sedert verlede jaar, toe daar 286 benoemings was. Die meeste ooit was 376 in 2016. Onder vanjaar se kandidate is die Amerikaanse president, Donald, Trump, wat benoem is deur ‘n Israelse drukgroep wat hom beywer vir die vrylating van gyselaars in Gaza. Die Noorweegse Nobelkomitee maak eers 50 jaar na die aankondiging die benoemingslys bekend. Vanjaar se prysgeld beloop 17,6-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….