Nuus 18:00
BULLETIN 9 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verwelkom die eerste fase van die vredes-ooreeenkoms tussen Israel en Hamas
# Die Joburg Indaba open met ‘n beroep vir beleidseenheid en hernude doelgerigtheid in mynwese
# En krieket: Die Protea-vroue jaag ‘n wenteiken van 252 in hulle Wêreldbekerwedstryd teen Indië
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking verwelkom die eerste fase van ‘n vredesooreenkoms tussen Israel en Hamas en noem dit vordering om die oorlog in Gaza te beëindig. Die regering het alle partye aangespoor om hulle tot die ooreengekome politieke proses te verbind en onmiddellik humanitêre hulp in die beleërde gebied toe te laat. Woordvoerder Chrispin Phiri prys ook die vrylating van gyselaars en politieke gevangenes en vra ‘n einde aan die besetting en ‘n blywende wapenstilstand:
# ‘n Verdagte wat gesoek word vir die moord op die adjunkhoofsweep van die IVP, Khethamabala Sithole, is vanoggend deur die polisie in Duduza, Ekurhuleni, doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die polisie het Zamani Ximba by ‘n skuilplek opgespoor, waar hy ‘n voorwerp wat soos ‘n vuurwapen gelyk het, op hulle gerig het. Die polisie het losgebrand en later ontdek dit was ‘n nagemaakte wapen. Hy bevestig twee ander verdagtes sal op 20 November in die hof verskyn:
# Mynbouleiers sê vennootskappe en samewerking is die sleutel om groei in die Suid-Afrikaanse mynboubedryf te bevorder. Voorsitter Bernard Swanepoel het op die 13de jaarlikse Joburg Indaba in Sandton, Johannesburg, gevra vir ‘n hernude sin van doelgerigtheid om die sektor se uitdagings te pak. Die uitvoerende hoof van Anglo American, Duncan Wanblad, het gewaarsku dat onsekere beleid en swak steun vir ontginnings-ondersoeke Suid-Afrika vir twee dekades onder-ontgin gelaat het. Hoofbeamptes van Implats, Sibanye-Stillwater en Valterra Platinum het saamgestem dat groter samewerking en beleidsbelyning noodsaaklik is om belegging en groei in die sektor te ontsluit.
# Krieket: Suid-Afrika benodig 252 vir ‘n oorwinning oor die mede-gasvrou, Indië, in hulle Wêreldbeker-groepswedstryd in Visakhapatnam. Chloé Tryon was die beste Protea-bouler met drie paaltjies vir slegs 32 lopies in haar tien boulbeurte. Marizanne Kapp, Nadine de Klerk en Nonkululeko Mlaba het elk twee paaltjies geneem. Richa Ghosh het die hoogste telling vir ‘n nommer nege-kolwer in ‘n Wêreldbekertoernooi aangeteken, met 94 lopies voordat De Klerk haar paaltjie ingepalm het. Die laaste paaltjie het van die voorlaaste bal geval.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-813-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-10-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Geloofgemeenskap se Omgewingsinstituut vier dié maand die toenemende getal Suid-Afrikaanse restaurante wat verkies om plaaseiers voor te sit. Môre is Wêreld-eierdag en volgende Donderdag is Wêreld-voedseldag. Mmathapelo Mosekedi van die instituut sê van die restaurante wat plaaseiers bedien om ‘n regverdiger voedselstelsel te bevorder, is Giovanni’s, Coffee Guy Noordhoek, Farm Shack, Bootlegger en Meraki Coffee House:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….