Nuus 15:00
BULLETIN 9 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid slaan toe op die woning van ‘n sakemagnaat gekoppel aan die Tembisa-hospitaal-korrupsieskandaal
# Die nasionale polisiekommissaris erken die SAPD is onder druk te midde van stygende misdaad en beperkte hulpbronne
# En sokker: Ronaldo is die sport se eerste dollar-miljardêr
# Die Spesiale Ondersoekeenheid doen ‘n klopjag by die huis van ‘n vooraanstaande sakemagnaat in Sandton, Johannesburg, wat betrek word by die jarelange ondersoek na korrupsie by die Tembisa-hospitaal in Gauteng. Volgens SABC News het die sakeman na bewering oor ‘n tydperk van twee jaar 820-miljoen-rand herlei deur middel van bedrieglike kontrakte deur die gebruik van 41 maatskappye. Die eenheid het drie groot sindikate geïdentifiseer wat by die skema betrokke is en wat na bewering meer as twee-miljard-rand in openbare fondse wanbestee het.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens is onder geweldige druk namate misdaad aanhou styg terwyl hulpbronne steeds beperk is. Hy het getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee wat politieke inmenging in polisie-sake ondersoek. Masemola sê wetstoepassing het meer ingewikkeld geword sedert die Covid-19-pandemie, met werkloosheid en maatskaplike uitdagings wat misdaad aanvuur. Hy het interne korrupsie en infiltrasie in die polisie erken terwyl gepoog word om Misdaadintelligensie te versterk en aanspreeklikheid met leefstyl-oudits te verbeter:
# President Cyril Ramaphosa het die Wêreldhandelsorganisasie versoek om handelstariewe te reguleer en multilaterale handelstelsels te verbeter om die manipulering van bestaande handelsbetrekkinge te beëindig. Hy het tydens die Europese Unie se forum in Brussel, België, beklemtoon die organisasie bly die enigste instelling wat globale handelsverskille kan bestuur. Ramaphosa bevestig ook Suid-Afrika se verbintenis tot samewerking met die EU om handelsbetrekkinge te bevorder:
# Die Indiese eerste minister, Narendra Modi, het aan sy Britse ampsgenoot, Keir Starmer, gesê die verhouding het beduidende vordering gemaak, nadat hulle beloof het om ongeëwenaarde ekonomiese geleenthede te ontsluit. Starmer is op sy eerste besoek aan Indië as eerste minister, vergesel deur ‘n afvaardiging van 125 lede, nadat die twee lande in Julie ‘n handelsooreenkoms in Londen onderteken het. Ingevolge die ooreenkoms sal Indië tariewe op invoere van Britse goedere soos whisky, skoonheidsmiddels en mediese toestelle verlaag, terwyl Brittanje heffings op klere, skoeisel en voedselprodukte, insluitend bevrore garnale vanuit Indië, sal verminder.
# Sokker: Portugal se kaptein, Cristiano Ronaldo, is bevestig as die sport se eerste dollar-miljardêr. Die finansiële inligtings- en mediamaatskappy Bloomberg het die 40-jarige speler se rykdom die eerste keer gemeet en stel sy netto-waarde op 1,4-miljard-dollar – of 24,3-miljard-rand. Dit sluit in salarisse, beleggings en borgskappe, insluitend ‘n borgskap van tien jaar met Nike wat 308-miljoen-rand per jaar werd was. Ronaldo het in 2022 die bes-betaalde speler in die geskiedenis geword toe hy by die Saoedi-Arabiese span Al-Nassr aangesluit het vir meer as vier-miljard-rand per seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-744-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-41-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….