Goeie Nuus
BULLETIN 9 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad is benoem onder die wêreld se beste stede in Travel plus Leisure se reistoekennings vir Indië en Suid-Asië, in die kategorie Internasionale Bestemmings, Beste Stad. Die tema is die Kuns van Ontdekking, en die toekennings vier plekke wat verkenning en verbintenis aanmoedig. Briony Brookes van Kaapstad Toerisme sê die benoeming bevestig die Moederstad se ongeëwenaarde wêreldwye aantrekkingskrag en spoor Kapenaars aan om te stem en so te help om die eerste plek te verseker:
# ‘n Meestersgraadstudent aan die Sol Plaatjie-universiteit in die Noord-Kaap, Tshepiso Sebeela, het die gesogte Abe Bailey-reisbeurs ontvang. Die beurs erken universiteitstudente vir buitengewone akademiese prestasie, leierskap en ‘n ernstige sin vir maatskaplike verantwoordelikheid. Die ontvanger onderneem elke jaar ‘n opvoedkundige toer deur Engeland en Skotland en kry die kans om hul begrip van leierskap, demokrasie en dienslewering uit te brei. Sebeela sê die eer weerspieël jare van akademiese uitnemendheid, diensbare leierskap en ‘n invloed op ‘n gemeenskap.
# Twee studente van die Noordwes-universiteit was naaswenners op die Suid-Afrikaanse Instituut vir Nywerheids-ingenieurswese se studentekompetisie. Die span bekend as AndyX, bestaande uit die finalejaar-studente Andile Madlala en Xayaan Maasdorp, het ‘n driewiel vir gesondheidsorg met ‘n geslote kajuit ontwerp om toegang tot mediese sorg in landelike Suid-Afrika te verbeter. Die twee sê die prestasie het hul vasberadenheid versterk om oplossings te soek wat betekenisvolle verandering teweeg bring. Die eerste plek is verower deur SyncHealth Solutions van die Universiteit van die Witwatersrand.
# Die 29ste Poetry Africa deur die Sentrum vir Skeppende Kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal, word tans by die Seabrooke Teater in Durban aangebied. Vanjaar se hoofdigter is die ontvanger van die Orde van Mapungubwe in Silwer, Ari Sitas, vir sy bydrae tot die sosiale wetenskappe en die kunste. Sewentig digters van onder meer Suid-Afrika, Amerika en Oekraïne is uitgenooi.
# En ten slotte: Taylor Swift se nuwe album, The Life of a Showgirl, het binne sy eerste week die beste syfers ooit aangeteken vir ‘n album in die stroom-era. Volgens Billboard het die album gelykstaande aan 3,5-miljoen albumeenhede oorskry in verkope sowel as stroomdienste. Dit oortref Adele se album, 25, wat voorheen die rekord gehou het op 3,482-miljoen eenhede in 2015. Swift se nuutste teater-aanbod, The Official Release Party of a Showgirl, het ook oor die naweek wêreldwye lokettrefferlyste gehaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….