Eko-minuut 13:30
BULLETIN 9 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê hulle het ‘n aansienlike bewilliging van sowat 548-miljoen-rand ontvang van die vooraanstaande Nederlandse ontwikkelings-finansieringsinstelling Invest International Public Programmes. Die befondsing is ‘n stap vorentoe in die metro se verbintenis tot volhoubare afvalbestuur en omgewingsleierskap. Woordvoerder Khathutshelo Mulaudzi sê Johannesburg se doelwitte is duidelik en ambisieus: om afval so ver moontlik uit te skakel, afhanklikheid van vullisterreine ingrypend te verminder en hernubare energie in te span:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê die hernubare energiebedryf bied ‘n deurslaggewende geleentheid vir Afrikalande om hul enorme hulpbronne te benut om te herindustrialiseer en waardige werksgeleenthede te skep. Die vasteland besit 60-persent van die wêreld se beste sonkragbronne, reuse-windpotensiaal en baie van die noodsaaklike minerale wat die wêreld se skoon energie-ekonomie ondersteun. Graham-Maré sê gesamentlike ontwikkeling van tegnologie, die vermindering van risiko’s in beleggingskapitaal en openbare-privaat-vennootskappe is ook die sleutel tot Afrika se herindustrialisering van hernubare energie:
# En ten slotte: Brittanje se uitvoere van plastiekafval na ontwikkelende lande het in die eerste helfte van vanjaar met 84-persent gestyg vergeleke met verlede jaar. Dit is volgens data van die Last Beach Cleanup. Die toename in uitvoere was hoofsaaklik na Indonesië en Maleisië. Die persentasie Britse plastiekafval na lande wat nie deel is van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling nie, was 20-persent van vanjaar se algehele plastiekafval-uitvoere. Brittanje is een van die voorste drie lande wat plastiekafval uitvoer – sowat 600-duisend ton per jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….