Nuus 12:00
BULLETIN 9 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika erken Children20 amptelik onder G20-presidentskap
# Die Hugenote-tonnel in die Boland heropen na noodherstelwerk
# En die Wêreldhandelsorganisasie verlaag die groeivoorspelling vir 2026 tot 0,5-persent
# Die regering het Children20 amptelik erken as een van die formele skakelgroepe van die G20-maatskaplike beraad as deel van die land se presidentskap van die G20. Children20 is ‘n spesiale platform vir kinders en tieners om te help vorm aan beleidsvoorstelle wat ‘n netwerk uitdagings soos ongelykheid, armoede, veiligheid en maatskaplike beskerming insluit. Sjerpa en beleidshoof, Anzio Jacobs, sê deur ‘n formele G20-roete vir kinders te skep, beklemtoon Suid-Afrika kinders is nie net begunstigdes van globale beleidsrigtings nie, maar aktiewe deelnemers om hulle te help vorm.
# COPE sê hy steun die onthullings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, oor hoe die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Misdaadintelligensie vir politieke gewin gebruik is. Hy het getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee wat bewerings van misdadige insypeling en politieke inmenging in die polisie ondersoek. COPE se waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê Mkhwanazi se onthullings bewys die ANC het staatshulpbronne misbruik om politieke teenstanders te ondermyn:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het bevestig die Hugenote-tonnel op die N1 in die Wes-Kaap is weer oop. Dit volg na noodsaaklike herstelwerk en ‘n omvattende veiligheidsevaluering nadat ‘n bus Vrydagaand in die tonnel aan die brand geraak het. Antoinette Fennie van die Wes-Kaapse Department van Beweeglikheid sê die tonnel is nou weer in bedryf, maar verdere herstelwerk sal in die komende maande voortgaan. Sy sê die meeste werk sal in die nag gedoen word om die minste ontwrigting vir motoriste te veroorsaak:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldhandelsorganisasie het sy voorspelling vir die groei van globale handel in goedere vir 2026 skerp verlaag tot 0,5-persent, teenoor die vorige 1,8-persent. Die organisasie skryf dit toe aan die nagevolge van die Amerikaanse president, Donald Trump, se tariewe. Die hoof van die organisasie, Ngozi Okonjo-Iweala, waarsku vooruitsigte is somber, maar sê die globale handelstelsel bly veerkragtig. Die organisasie het sy voorspelling vir 2025 verhoog tot 2,4-persent, danksy invoerstygings voor die inwerkingtreding van tariefverhogings en die bloeiende handel rondom kunsmatige intelligensie.
# Krieket: Die Engelse kolwer Joe Root hou vol hulle kan hul tienjaar-lange As-droogte beëindig en dit uiteindelik weer huis toe bring na hul toer in Australië later vanjaar. Engeland het die As laas in 2015 gewen en hul laaste oorwinning in ‘n toetsreeks in Australië was in die 2010/11-seisoen. Die twee spanne het die mees onlangse reeks in Engeland 2-elk gedeel en Australië het die laaste drie toere tuis onderskeidelik 4-0, 4-0 en 5-0 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-413-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-35-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….