Nuus 09:00
BULLETIN 9 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Polisiekommissaris sal vandag voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig
# Die Stad Johannesburg ontvang befondsing vir Alternatiewe Afvalbehandelingstegnologie
# En Netanyahu loof die instemming tot die eerste fase van die Gaza-vredesplan
# Die Parlementêre ad hoc-komitee hoor vandag getuienis van ‘n nuwe getuie, die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, aan. Die komitee ondersoek aantygings van die kommissaris van Polisie van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, wat Woensdag getuig het. In sy getuienis voor die Madlanga-kommissie, het Masemola die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskuldig van oortreding van artikel 207 van die Grondwet om KwaZulu-Natal se spesiale taakspan vir politieke moorde te ontbind. Hy het ook die gewese minister van Polisie, Bheki Cele, beskuldig van beskerming van verdagtes en manipulasie van dossiere.
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê die hernubare energiebedryf bied ‘n deurslaggewende geleentheid vir Afrikalande om hul enorme hulpbronne te benut om te herindustrialiseer en waardige werksgeleenthede te skep. Die vasteland besit 60-persent van die wêreld se beste sonkragbronne, enorme windpotensiaal en baie van die noodsaaklike minerale wat die wêreld se skoon energie-ekonomie ondersteun. Graham-Maré sê gesamentlike ontwikkeling van tegnologie, die vermindering van risiko’s in beleggingskapitaal en openbare-private vennootskappe is ook die sleutel tot Afrika se herindustrialisering van hernubare energie:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero sê hulle het ‘n aansienlike bewilliging van sowat 548-miljoen-rand van Invest International Public Programmes, ‘n vooraanstaande Nederlandse ontwikkelingsfinansieringsinstelling ontvang. Die befondsing is ‘n stap vorentoe in die metro se verbintenis tot volhoubare afvalbestuur en omgewingsleierskap. Die burgemeester se waarnemende woordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi, sê Johannesburg se doelwitte is duidelik en ambisieus: om afval so ver moontlik uit te skakel, afhanklikheid van afvalterreine drasties te verminder en hernubare energie in te span:
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu het die ooreenkoms van die eerste fase van die Gaza-20-punt-vredesplan as ‘n diplomatieke sukses en ‘n nasionale en morele oorwinning vir Israel beskryf. Die ooreenkoms sluit ‘n Israelse onttrekking uit die Gazastrook en ‘n gyselaars-gevangene-uitruiling in. Netanyahu sê dat hulle deur standvastige vasberadenheid, kragtige militêre optrede en die pogings van die Amerikaanse president Donald Trump die kritieke keerpunt bereik het. Hamas sê die mense van Gaza het ongeëwenaarde moed, eer en heldhaftigheid getoon.
# Krieket: Beth Mooney se honderdtal het Australië gehelp om in die top-orde te herstel en Pakistan met 107 lopies by die Vrouewêreldbeker in Colombo te klop. Die verdedigende kampioen is tot 76 vir sewe beperk. Mooney het egter 109 aangeteken en die hoogste vennootskap om die negende paaltjie ooit in die geskiedenis van vroue-eendagkrieket met Alana King gedeel, 106 van 96 balle, terwyl Australië herstel het tot 221 vir nege in 50 boulbeurte. In antwoord hierop is Pakistan vir 114 uitgeboul. Mooney sê die kolfwerk was geestelik uitputtend:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-957-dollar. Die prys van goud is vierduisend-29-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….