Nuus 16:00
BULLETIN 8 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die RDK beveel vyf kandidate aan vir vakatures in die Konstitusionele Hof
# Die Suid-Afrikaanse Perlemoen-uitvoerraad teiken die Europese mark
# En die Duitse federale polisie kry toestemming om hommeltuie af te skiet
# Die Regterlike Dienskommissie het onderhoude vir twee vakatures in die Konstitusionele Hof afgehandel en vyf kandidate aanbeveel. Die ervare akademikus Madumetja Malepe is uitgesluit weens bewerings van gesteelde kerkfondse, skuldkwessies en twyfel oor akademiese geloofwaardigheid. Die RDK se kommissaris, Sesi Baloyi, het bevestig die lys sal aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word vir finale oorweging:
# Die Suid-Afrikaanse Perlemoen-uitvoerraad teiken die Europese mark om uitvoere uit te brei. Die uitvoerende hoof, Rhomona Gounden, verteenwoordig die sektor op die Anuga-voedsel- en Drankhandelskou in Keulen, Duitsland, saam met 30 Suid-Afrikaanse uitstallers. Die skou, wat vandag ten einde loop, bied ‘n platform om Europese verbruikers in te lig oor perlemoen, ‘n premiumgehalte seekos wat grootliks onbekend is in die streek. Die veldtog word ondersteun deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging.
# Duitsland se federale polisie sal voortaan toegelaat word om hommeltuie af te skiet na ‘n onlangse reeks waarnemings waarvoor Berlyn Rusland die skuld gee. Die minister van Binnelandse Sake, Alexander Dobrindt, het die wetsontwerp bekendgemaak en gesê die polisie sal nou steuringstoestelle kan gebruik of fisiese maatreëls tref soos om hommeltuie te onderskep en af te skiet. Duitsland het meer oor moderne hommeltuig-verdediging geleer van sy bondgenote, Israel en Oekraïne. Dobrindt sê die federale polisie sal ook ‘n bykomende eenheid stig vir ontwikkeling en navorsing oor hommeltuig-verdediging.
# Rugby: Die Haaie se senter Lukhanyo Am, sê hy is vasberade om weer sy plek in die Springbok-groep terug te kry. 2019 se Wêreldbekerwenner het weens beserings in November verlede jaar teen Engeland laas vir die Bokke gespeel. Die Haaie berei voor om Saterdag in Dublin teen Leinster te speel in die derde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Am sê hy fokus daarop om die werk te doen wat hom terug sal kry in die nasionale span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-756-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-37-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-17-sent per vat.
# En laastens, vanjaar se Nobelprys vir Chemie is toegeken aan Susumu Kitagawa van Japan, Richard Robson van Australië en Omar Yaghi van Amerika vir hul ontwikkeling van metaal-organiese raamwerke. Hierdie poreuse molekulêre strukture kan gasse vasvang, water vanuit die lug oes, giftige chemikalieë berg en chemiese reaksies bevorder. Hiener Linke van die Nobelkomitee sê hul baanbrekerswerk kan help om globale uitdagings soos waterskaarste en besoedeling aan te pak en nuwe oplossings bied vir omgewings- en tegnologiese probleme:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….