Nuus 14:00
BULLETIN 8 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatspensioenfonds skort aansoeke vir onttrekking ingevolge die tweepot-aftreestelsel tydelik op
# ‘n Parlementêre komitee word geskud deur bewerings dat ministers, polisielede en sakelui in geheime vennootskappe is
# En ‘n agtien-jarige pa word aangekeer vir die moord op sy babaseun van vyf-maande in Limpopo
# Die Staatspensioenfonds het aangekondig aansoeke vir tweepot-pensioenonttrekkings word tydelik opgeskort, en dit is onmiddellik van krag tot 21 Oktober. Die onderbrekings laat die fonds toe om sy stelsels op datum te kry met nuwe aktuariële rentefaktore om te verseker voordele word akkuraat bereken. Ander voordele, insluitend aftree- en sterfte-uitbetalings, sal voortgaan. Die fonds sê met meer as 1,2-miljoen lede, is die kort onderbreking noodsaaklik om regverdigheid en akkuraatheid te handhaaf. Onttrekkingsdienste sal op 22 Oktober hervat word sodra bywerkings voltooi is.
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê daar is kommerwekkende verbintenisse tussen ministers, polisiebeamptes en sakelui, wat daarop dui dat georganiseerde misdaadnetwerke polisiebedrywighede beïnvloed. Hy getuig tans voor die Parlement se ad hoc-komitee wat ondersoek instel na misdaad, politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel. Volgens Mkhwanazi het Cedrick Nkabinde, die personeelhoof van die voormalige minister van Polisie, Senzo Mchunu, die kontakbesonderhede van die omstrede sakeman, Brown Mogotsi, aan hom gestuur:
# ‘n Agtienjarige seun is in hegtenis geneem in verband met die moord op sy biologiese babaseun van vyf maande in die Jimmy Jones-dorpsgebied in Malamulele, Limpopo. Polisiewoordvoerder Malesela Ledwaba sê die kind se ma het ‘n saak van huishoudelike geweld by die plaaslike polisiestasie aangemeld nadat die beskuldigde haar na bewering aangerand het. Hy sê die ma het die polisie ook ingelig dat hy hulle baba herhaaldelik aangerand het:
# Tennis: ‘n Ongelooflike 11,3-miljoen-dollar is op die spel in ‘n toernooi tussen amateurs en hoëprofiel-spelers, insluitend wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, in Australië in Januarie. Tien amateurs en 22 beroepspelers sal deelneem aan die sogenaamde Miljoendollar-eenpunt-kompetisie voor die begin van die Australiese Ope in Melbourne. Deelnemers sal ‘klip-papier-skêr’ speel om te bepaal wie afslaan en wie ontvang, en die wenner van die enigste punt dring deur na die volgende ronde. Vanjaar se eerste toernooi het prysgeld van net 680-duisend-rand gehad.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-698-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-24-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Vanjaar se Nobelprys vir Fisika is toegeken aan die Amerikaners John Clarke, Michel Devoret en John Martinis vir hulle grondverskuiwende proefnemings wat die kwantummeganiese effekte in ‘n handgrootte elektriese stroombaan demonstreer. Die bekroondes sal 18-miljoen-rand deel. Olle Eriksson van die Koninklike Sweedse Akademie van Wetenskap sê die drietal het bewys dat kwantum-tonnelering en energie-kwantisering op makroskopiese skaal kan gebeur wat die gaping tussen mikroskopiese kwantumteorie en alledaagse voorwerpe oorbrug:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….