Nuus 12:00
BULLETIN 8 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa skep ‘n paneel om die volgende nasionale direkteur van Openbare Vervolging te kies
# Sakeliga doen regstappe om swart bemagtigingsvereistes in internasionale lugrederye om te keer
# En die Nobelpryskomitee sukkel om wenners in te lig oor hulle aanwysing
# President Cyril Ramaphosa het ‘n paneel saamgestel wat ‘n opvolger vir die nasionale direkteur van Openbare Vervolging moet kies. Die paneel, onder voorsitterskap van die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, bestaan uit leiers van die regsgemeenskap en Hoofstuk Nege-instellings. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die huidige direkteur, advokaat Shamila Batohi, se termyn eindig in Januarie volgende jaar:
# Sakeliga sê hy gaan die Internasionale Lugdienste-raad se onwettige instelling van vereistes van swart ekonomiese bemagtiging vir internasionale lugdienslisensies in die hof teenstaan. Dit volg op ‘n vorige oorwinning oor soortgelyke vereistes vir plaaslike lugdiensverskaffers. Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, sê as reguleerder vir internasionale lugdienste hou die IASC se eise ernstige gevolge in. Hy sê dis nie net onwettig nie, maar ook onprakties en absurd om groot internasionale lugdienste onderhewig te maak aan sertifisering vir swart ekonomiese bemagtiging of transformasie-verbintenisse.
# Die Cullinan-Landdroshof in Pretoria het borgtog van twee-duisend-rand elk toegestaan aan twee taxi-operateurs wat daarvan beskuldig word dat hulle vyf mans gemartel en doodgebrand het. Masipa Maepa en Job Magongwa staan tereg op vyf aanklagte van moord, vyf van ontvoering en vyf van aanranding. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê Magongwa het ‘n vorige veroordeling vir aanranding:
# Rugby: Die Springbokhaker Malcolm Marx sê hoewel hulle baie tevrede is om die Rugbykampioenskapstitel twee keer na mekaar te kon verower, lê harde werk nou voor vir hulle toer na die Noordelike Halfrond. Suid-Afrika het die kampioenskap skitterend geeïndig, met agtereenvolgende oorwinnings oor die All Blacks en die Pumas, maar Marx sê hulle moet verbeter. Die Bokke speel op 1 November teen Japan in Londen, gevolg deur toetse teen Frankryk in Parys, Italië in Turyn, Ierland in Dublin en Wallis in Cardiff op agtereenvolgende naweke.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-930-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-39-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-62-sent per vat.
# En laastens, ‘n Nobelpryswenner het ‘n oproep van gelukwensing geïgnoreer omdat sy gedink het dit is ‘n vals oproep terwyl ‘n ander persoon tans op ‘n staptog is. Die wetenskaplikes Mary Brunkow, Fred Ramsdell en Shimon Sakaguchi het die Nobelprys vir Geneeskunde gewen vir die identifisering van regulatoriese T-selle wat keer dat immuunselle ‘n persoon se eie liggaam aanval. Brunkow sê sy het ‘n oproep van die Nobelpryskomitee geïgnoreer omdat sy gedink het dit was ‘n bedrogspul. Ramsdell is op ‘n rugsakreis en weet nog nie van die prys nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….