Nuus 09:00
BULLETIN 17 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kry die grootste deel van vyf-miljoen-rand wat die OVK aan partye in die Parlement toegeken het
# Die ekonoom Thabi Leoka verwerp bewerings van vervalste PhD-kwalifikasies
# En rugby, vyf vroue is ingesluit op Saru se nasionale wedstrydbeampte-paneel
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het vyf-miljoen-rand toegeken aan politieke partye wat in die Parlement verteenwoordig word en die ANC kry die grootste deel daarvan. Dit is in ooreenstemming met die regulasies wat die veelpartydemokrasie-fonds beheer. Die OVK het aan News24 gesê die geld sal aan elke party toegeken word volgens die formule van proporsionele deling wat beteken 67-persent proporsionele aandeel en 33-persent gelyke aandeel. Hy sê die formule van proporsionele deling is gebaseer op die aantal setels of verteenwoordiging wat die party in die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewer het.
# ActionSA sê hy neem kennis van die EFF se doelbewuste wanvoorstelling van die posisie van ‘n adjunkburgemeester in die Stad Tshwane weens die metro se finansiële posisie. Die EFF voer aan die raad moes nie goedkeuring vir die skepping van die pos gegee het nie omdat die metro geen fondse daarvoor het nie. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die EFF se geveinsde ontsteltenis oor die saak is swak bedekte politiekery:
# Die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane het die voortslepende taxigeweld in die provinsie ten sterkste veroordeel. In die jongste voorval is drie mense doodgeskiet en vyf ander beseer toe twee taxiverenigings gister by die Port St Johns-taxistaanplek op mekaar losgebrand het. Een van die gewondes is ʼn 11-jarige seun wat deur ʼn opslagkoeël getref en na die hospitaal gehaas is. Die premier se woordvoerder, Yanga Funani, sê sulke wetteloosheid kan nie geduld word nie:
# Die gerekende ekonoom, Thabo Leoka, ontken ten sterkste beskuldigings dat sy ʼn wanvoorstelling doen ten opsigte van haar doktorale kwalifikasies en het onderneem om regstappe te doen. Business Day berig sy het na bewering gelieg dat sy glo ʼn PhD van die London School of Economics verwerf het. Leoka dien op die direksies van maatskappye wat op die Johannesburgse Aandelebeurs gelys is en president Cyril Ramaphosa het haar aangestel op die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad. Sy is oortuig foute dra by tot die probleme met die soektog na haar PhD-rekords.
# Rugby: ʼn Rekord aantal van vyf vroue is ingesluit in SA Rugby se nasionale paneel van wedstrydbeamptes vir vanjaar. Hulle is Aimee Barret-Theron, Ashley Murray-Pretorius, Sinesipho Foloti, Giana Viljoen en Zoë Naudé. Twee mans, Eon van Zyl en Daniel Canhenga, is van die akademiepaneel na die nasionale paneel bevorder. Die bestuurder van skeidsregters, Banks Yantolo, sê hulle identifiseringsprogram in die provinsiale unies dra nou vrug terwyl hulle hard werk met moontlike topvlak-wedstrydbeamptes met intensiewe afrigting en verbetering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-817-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….