Nuus 11:00
BULLETIN 8 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa skep ‘n paneel om die volgende nasionale direkteur van Openbare Vervolging te kies
# Die GOOD-party sê Brown Mogotsi moet aanspreeklik gehou word
# En rugby: Malcolm Marx sê die Bokke moet verbeter voor hulle jaareind-toer
# President Cyril Ramaphosa het ‘n paneel saamgestel wat ‘n opvolger vir die nasionale direkteur van Openbare Vervolging moet kies. Die paneel, onder voorsitterskap van die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, bestaan uit leiers van die regsgemeenskap en Hoofstuk Nege-instellings. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die huidige direkteur, advokaat Shamila Batohi, se termyn eindig in Januarie:
# Die GOOD-party sê as Suid-Afrika ‘n grondwetlike demokrasie wil bly wat deur die oppergesag van die wet regeer word, moet diegene wat betrokke is by die ondermyning van staatsinstellings die volle gevolge van hul optrede dra. Die Madlanga-kommissie het ‘n Reël 3-kennisgewing uitgereik wat die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, formeel in kennis stel dat hy betrek word by beweerde onwettige inmenging by die Suid-Afrikaanse Polisiediens. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Mogotsi moet aanspreeklik gehou word:
Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, waarsku intussen Suid-Afrika loop die gevaar om ‘n piesang-republiek te word as korrupsie binne die polisie nie uitgeroei word nie. Hy het na die Madlanga-kommissie verwys en die vakbond POPCRU meegedeel dat besluite moet lei tot inwerkingstelling. Mbalulu beloof aanspreeklikheid vir diegene wat die ANC verteenwoordig. Hy beklemtoon die party moet beslissend optree en die alliansievennote moet verenig bly deur opbouende politieke betrokkenheid:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldbank sê die ekonomie van Afrika suid van die Sahara sal na verwagting vanjaar met 3,8-persent groei wat hoër is as die verwagte 3,5-persent in April. Dit word aangevuur deur bestendige inflasie en die goeie wisselkoers in lande soos Ethiopië. Die bank se Africa Pulse-verslag verwys na verbeterde omstandighede wat privaatverbruik en beleggings aanwakker. ‘n Gemiddelde groeikoers van 4,4-persent word vir die volgende twee jaar voorspel terwyl fiskale inperkings herstel kan vertraag. Ethiopië, Nigerië en die Ivoorkus het die sterkste opwaartse hersienings aangeteken.
# Rugby: Die Springbokhaker Malcolm Marx sê hoewel hulle baie tevrede is om die Rugbykampioenskapstitel twee keer na mekaar te kon verower, lê harde werk nou voor vir hulle toer na die Noordelike Halfrond. Suid-Afrika het die kampioenskap skitterend geeïndig, met agtereenvolgende oorwinnings oor die All Blacks en die Pumas, maar Marx sê hulle moet verbeter. Die Bokke speel op 1 November teen Japan in Londen, gevolg deur toetse teen Frankryk in Parys, Italië in Turyn, Ierland in Dublin en Wallis in Cardiff op agtereenvolgende naweke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23 sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-9 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-708 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-36 dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-85-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….