Nuus 09:00
BULLETIN 8 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê Afrikalande moet meer onder mekaar handel dryf
# Die SA Pluimveevereniging is bekommerd oor ’n ondersoek na billikheid in die pluimveebedryf
# En die VN is bekommerd oor die hoë aantal burgerlikes wat uit Mosambiek vlug
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile sê die versterking van die waardekettings op die Afrika-vasteland is noodsaaklik om waardetoevoeging te bevorder en mededingendheid te bereik. Hy het Dinsdag die tweede byeenkoms van die Invest in Senegal-forum toegespreek. Die forum lê hom toe op die bevordering van handel en beleggings deur die sakegemeenskappe in Senegal, Afrika en die wêreld bymekaar te bring. Mashatile sê Afrikalande het saam hard gewerk om die Afrika-vryhandelsooreenkoms te skep en dit is nou tyd om dit ten volle in te stel:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, waarsku Suid-Afrika loop die gevaar om ‘n piesang-republiek te word as korrupsie binne die polisie nie uitgeroei word nie. Hy het na die Madlanga-kommissie verwys en die vakbond POPCRU meegedeel dat besluite moet lei tot inwerkingstelling. Mbalulu beloof aanspreeklikheid vir diegene wat die ANC verteenwoordig. Hy beklemtoon die party moet beslissend optree en die alliansievennote moet verenig bly deur opbouende politieke betrokkenheid:
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het sy kommer uitgespreek oor die Mededingingskommissie se formele markondersoek na Suid-Afrika se grootste pluimveeprodusente. Die kommissie het Astral, Rainbow Chicken, Country Bird en Sovereign as die land se vier grootste hoenderprodusente aangedui. Dié vier lewer byna 63-persent van Suid-Afrika se hoenderprodukte. Die vereniging sê die kommissie se kommer dat groot pluimveemaatskappye toegang tot die mark beheer, is misplaas. Hy sê die voordele wat groot maatskappye aan klein besighede bied, moet nie misgekyk word nie.
# Die Verenigde Nasies is besorgd oor die aantal burgerlikes wat van geweld in noordelike Mosambiek vlug. Die VN-vlugtelingagentskap sê meer as 100-duisend vlugtelinge het sedert die begin van die jaar uit hul huise gevlug, met byna 22-duisend mense wat in ‘n enkele week aan die einde van September gevlug het. Hernude aanvalle is die afgelope maande in die Cabo Delgado-provinsie aangemeld, waar ‘n opstand sedert 2017 woed. Rebelle wat bande het met jihadiste van die Islamitiese Staat het verlede maand die belangrike Mosambiekse hawedorp Mocimboa da Praia aangeval, waar hulle met soldate gebots het en burgerlikes onthoof het.
# Krieket: Engeland het sy tweede oorwinning in die Vrouewêreldbeker in Guwahati behaal deur Bangladesh in ‘n hewige stryd met vier paaltjies te klop. Engeland is nou bo-aan die punteleer. Sophia Ecclestone het drie paaltjies platgetrek en Bangladesh is vir 178 uitgeboul. In antwoord hierop het Heather Knight vir die Engelse ‘n onoorwonne 79 aangeteken in ‘n vennootskap met Charlie Dean en die span het die teiken in die 47ste boulbeurt gehaal. Engeland se kaptein Nat Scriver-Brunt sê hulle het gedoen wat nodig was om die wedstryd te beklink:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23 sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-7 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-376 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-18 dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-71-sent per vat..
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….