Nuus 18:00
BULLETIN 7 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verkla die minister van Toerisme by die Openbare Beskermer oor beweerde magsmisbruik
# Sokker: Harry Kane gaan moontlik aanbly by Bayern Munich
# En MaXhosa Africa blink die vierde agtereenvolgende jaar uit op die Paryse Modeweek
# Die DA het ‘n klagte ingedien by die Openbare Beskermer teen die minister van Toerisme, Patricia de Lille, oor haar besluit om die Suid-Afrikaanse Toerismeraad te ontbind. Die party sê die raad het binne sy regte opgetree om uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe, oor finansiële en onreëlmatighede te skors. Haseena Ismail van die DA sê voormalige raadslede het aan die Parlement gesê De Lille het waarskuwings ignoreer, ingemeng met die ouditeur-generaal se ondersoeke en optrede teen Guliwe vertraag:
# Die vakbond Solidariteit sê sy lastersaak teen die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sal onbestrede voortgaan. Dit volg nadat beide Ntshavheni en president Cyril Ramaphosa nie ‘n antwoord ingedien om die eis te betwis nie. Die saak hou verband met Ntshavheni se uitsprake in Maart wat beweer dat Solidariteit en AfriForum waninligting versprei het tydens hul besoeke aan die VSA. Uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Hermann, hou vol daar is geen bewyse om die bewerings te steun nie.
# Die People’s Movement for Change sê hulle gaan gemeenskapsgevestigde kandidate benoem in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing. Die party het in Februarie 2024 aan sy eerste munisipale verkiesing deelgeneem in Theewaterskloof in die Wes-Kaap en laaste geëindig uit ses partye met twee persent van die stemme. Die party se woordvoerder, Grant Harmse, sê hul veldtog vir volgende jaar se plaaslike owerheidsverkiesing is prakties en stelselmatig:
# Sokker: Engeland se kaptein, Harry Kane, oorweeg dit om aan te bly by Bayern Munich nadat sy belangstelling om terug te keer na die Premierliga afgekoel het. Kane het die seisoen op ‘n hoogtepunt afgeskop en 18 doele in tien wedstryde aangeteken om die Duitse kampioen se verdediging van sy Bundesliga-titel aan te vuur. Die 32-jarige, wat 103 doele in 106 wedstryde vir Bayern aangeteken het, se kontrak verstryk in 2027.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-287-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-973-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, die stigter en hoofontwerper van die gewilde luukse Xhosa-breiwerkhandelsmerk MaXhosa Africa, Laduma Ngxokolo, het oor die naweek sy Lente/Somer 2026-versameling by die Paryse Modeweek aangebied. Die versameling van 30 helderkleurige uitrustings is getiteld Izipho Zabadala, wat “Geskenke vir die Voorouers” beteken. Die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama en sangeres Beyoncé is van die bekende persoonlikhede wat al MaXhosa-kledingstukke gedra het. Ngxokolo sê dit is spesiaal om vir die vierde agtereenvolgende jaar in die Paryse Modeweek-program ingesluit te word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….