Nuus 16:00
BULLETIN 7 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Hlengwa ontbloot ernstige probleme by die Padongelukkefonds
# Julius Malema waarsku die Parlement se ad hoc-komitee mag nie ‘n sub-komitee van die Madlanga-kommissie word nie
# En krieket: Mitchell Starc keer terug na Australië se eendaggroep vir ‘n reeks teen Indië
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, het die erge korrupsie en wanbestuur by die Padongelukkefonds beklemtoon. Hy het die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge ingelig oor ‘n noemenswaardige agterstand van onbetaalde eise, kritieke vakatures en verkrygings-onreëlmatighede. Hlengwa het ook kommer uitgespreek oor inligting van fluitjieblasers wat regsfirmas en lede van die regsbank in korrupte handelinge uitwys. Hy beklemtoon die behoefte aan openbare opvoeding oor eisprosesse:
# Die leier van die EFF, Julius Malema sê die Parlement se ad hoc-komitee wat bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek mag nie optree asof hulle ‘n subkomitee van die Madlanga-kommissie is nie. Mkhwanazi is die eerste getuie in die Parlement oor beweerde politieke inmenging in die regstelsel. Malema sê die komitee is ‘n onafhanklike struktuur van die Parlement en Mkhwanazi se verklaring moet ‘n oorspronklike voorlegging aan die komitee wees en nie ‘n duplikaat van sy vorige getuienis voor die kommissie nie:
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola waarsku bandelose gemeenskapslede dat die polisie nie aanvalle op sy lede sal duld nie, veral nie deur mense wat die blou uniform misken nie. Woordvoerder Athlenda Mathe sê dit volg na ‘n video op sosiale media van ‘n vroue-polisiebeampte wat aangerand is terwyl sy haar wettige pligte in Kimberley, in die Noord-Kaap, uitgevoer het. Mathe sê enige persoon wat probeer keer dat polisiebeamptes hul mandaat uitvoer om misdaad te voorkom en te beveg, sal met die volle mag van die reg te doen kry.
# President Cyril Ramaphosa sal hierdie week werksbesoeke in Ierland en België aflê om handels- en diplomatieke bande te versterk. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa ontmoet môre die Ierse president Michael Higgins en premier Micheál Martin om samewerking te verdiep in onderwys, wetenskap en belegging. Hy het ook bevestig Ramaphosa sal Donderdag aansluit by die Global Gateway-forum in Brussel, gelei deur die president van die Europese Unie, Ursula von der Leyen:
# Krieket: Die ervare snelbouler Mitchell Starc is in Australië se eendagspan ingesluit vir hulle tuisreeks teen Indië later die maand. Sy terugkeer is een van vier veranderings aan die span wat verlede maand die eendagreeks teen Suid-Afrika 2-1 verloor het. Die ander spelers wat teruggeroep is, is Matt Short, Matt Renshaw en Mitchel Owen. Marnus Labuschagne, Aaron Hardie en Matthew Kuhnemann is uitgelaat. Mitch Marsh sal steeds die span aanvoer in die plek van die gereelde kaptein, Pat Cummins, wat beseer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-541-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-966-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….