Goeie Nuus
BULLETIN 7 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad is een van TimeOut se 20 beste plekke om tussen Oktober en Februarie te besoek. Dit is omdat lande in die Noordelike Halfrond in dié tyd kouer weer ervaar. Sharm-el-Sjeik in Egipte, bekend vir sy turkoois water en wolklose blou hemel feitlik heeljaar, is boaan die lys. Namibië is tweede, gevolg deur Ciprus, Bali in Indonesië en Alicante in Spanje. Kaapstad is 17de op die lys danksy sy ryk natuurskoon, strande en blou lug in die somer.
# Die stigter en hoofontwerper van die gewilde luukse Xhosa-breiwerkhandelsmerk MaXhosa Africa, Laduma Ngxokolo, het oor die naweek sy Lente/Somer 2026-versameling by die Paryse Modeweek aangebied. Die versameling van 30 helderkleurige uitrustings is getiteld Izipho Zabadala, wat “Geskenke vir die Voorouers” beteken. Die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, en die sangeres Beyoncé is van die bekende persoonlikhede wat al MaXhosa-kledingstukke gedra het. Ngxokolo sê dit is spesiaal om vir die vierde agtereenvolgende jaar in die Paryse Modeweek-program ingesluit te word:
# ‘n Professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Marichen van der Westhuizen, ondersoek sedert 2012 hoe musiek, dans, fotografie en storievertelling instrumente kan wees vir maatskaplike samehorigheid en insluiting. Sy lewer volgende week haar intree-rede wat die viering van akademiese prestasie genoem word. Van der Westhuizen sê haar opvoeding tydens apartheid in Oudtshoorn het oorgeloop van skeppenheid en kritiese bewustheid.
# ‘n Projek onder leiding van die wêreldreus Diageo Suid-Afrika in vennootskap met die Universiteit van Johannesburg, sal gasvryheidstudente waardevolle werkservaring bied by sommige van die voorste Johannesburgse ondernemings. Die Leer vir die Lewe-program is saamgestel om studente toe te rus met noodsaaklike praktiese vaardighede en bedryfskennis oor toerisme, gasvryheid en voedsel- en drankdienste. Die jeugwerkverskaffingsdiens, YES4YOUTH, steun ook die program. Dit sal ‘n eenjaarplasing vir 100 studente in hoogaangeskrewe hotelle en kulinêre ondernemings bemiddel.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het erkenning verleen aan leerders van die Laerskole Rooirivier, Floreat en Ysterplaat wat aan die Junior Rivierwagter-program deelgeneem het wat onlangs van stapel gestuur is. Die program is ‘n vernuwende projek van omgewingsopvoeding vir leerders in grade 5 en 6 om hulle bewus te maak van die belangrikheid van riviere, vleilande en varswater-ekostelsels. Die burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en Omgewing, Eddie Andrews, sê hulle hoop om omgewingsbewuste jong leiers te vorm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….