Eko-minuut 13:30
BULLETIN 7 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Nasionale Kernreguleerder het sy derde en laaste ronde openbare verhore afgesluit, oor Eskom se aansoek om die oorspronklike leeftyd van die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad e verleng. Verhore is in die Noord- en die Wes-Kaap gehou. Die raad se voorsitter, Protas Phili,sê belanghebber-insette is noodsaaklik vir deursigtigheid en veiligheid. Die reguleerder sal nou alle voorleggings hersien voor hy sy finale besluit oor Koeberg Eenheid 2 se aansoek sal bekendmaak.
# Vir die eerste keer ooit het hernubare energiebronne wêreldwyd meer krag in die eerste helfte van die jaar opgewek as steenkool. Volgens nuwe data van die wêrelddinkskrum Ember, het die wêreld byna ‘n derde meer sonkrag in die eerste helfte van die jaar opgewek vergeleke met dieselfde tydperk in 2024, wat in 83-persent van die wêreldwye toename krag-aanvraag voldoen het. Windkrag het met meer as sewe-persent toegeneem. China en Indië is hoofsaaklik verantwoordelik vir die styging in hernubare energiebronne terwyl Amerika daarenteen swaarder op fossielbrandstowwe geleun het.
# En ten slotte: Kaapstad is een van TimeOut se 20 beste plekke om tussen Oktober en Februarie te besoek. Dit is omdat lande in die Noordelike Halfrond in dié tyd kouer weer ervaar. Sharm-el-Sjeik in Egipte, bekend vir sy turkoois water en wolklose blou hemel feitlik heeljaar, is boaan die lys. Namibië is tweede, gevolg deur Ciprus, Bali in Indonesië en Alicante in Spanje. Kaapstad is 17de op die lys danksy sy ryk natuurskoon, strande en blou lug in die somer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….