Nuus 18:00
BULLETIN 6 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula veg terug terwyl AfriForum dreig met privaat vervolging oor sy besoek aan Dubai in 2016
# Kenny Kunene word weer ingehuldig as Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir Vervoer
# En meer as 12-duisend BMW-voertuie word herroep
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, dring daarop aan dat hy regmatig opgetree het gedurende sy gesinsbesoek aan Dubai in 2016. Hy verwerp AfriForum se dreigement om te vervolg as die Nasionale Vervolgingsgesag nie optree nie. Barry Bateman van AfriForum beweer dat die NVG se besluit om hom nie te vervolg nie, irrasioneel was en dring aan op aanspreeklikheid. Mbalula veroordeel die groep se poging om die saak te laat herleef, en bestempel hulle media-lekkasies as sensasioneel en polities gemotiveerd. Hy kritiseer AfriForum se optrede as die ondermyning van demokratiese instellings en dat hulle ‘n wraaksugtige agenda nastreef.
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party se nasionale uitvoerende komitee het besluit om ‘n ekonomiese oorlogskamer in die Presidensie te stig om regeringsprestasie te koördineer en gereelde vorderings-puntekaarte te publiseer. Die oorlogskamer sal regeringsdepartemente aanspreeklik hou en beleide bespoedig om werkloosheid, armoede en hoë lewenskoste te bekamp . Ramaphosa het sy toespraak by die vergadering in Boksburg, Ekurhuleni, afgesluit deur te sê professionalisering en meriete-gebaseerde aanstellings sal ononderhandelbaar wees om doeltreffende lewering en aanspreeklikheid te verseker:
# Die adjunkpresident van die Patriotic Alliance, Kenny Kunene, is die tweede keer ingehuldig as die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir Vervoer. Kunene het in Julie uit die pos bedank nadat hy by die moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe se huis gevind is, wat omstredenheid ontketen het. Die posisie het maande lank vakant gebly te midde van koalisie-geskille. Die burgemeester, Dada Morero, het Kunene se aanstelling verlede week bevestig ná interne partyskuiwe en koalisie-onderhandelings.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n kennisgewing uitgereik aan eienaars van die BMW 3-, 4-, 5-reeks en Z4-, X3- en X4-modelle oor foutiewe knormoere. Die woordvoerder, Phetho Ntaba, sê 12-duisend-491 voertuie wat sedert 2016 in Suid-Afrika verkoop is, se enjin-aansitmotors kan foutief wees. Sy versoek eienaars om gemagtigde handelaars te besoek en dit onmiddellik te vervang terwyl die kommissie die situasie monitor:
# Sokker: Spanje het bevestig dat Manchester City se middelveldspeler, Rodri Hernandez, nie by hulle sal aansluit vir die komende Wêreldbeker-kwalifiseerders nie omdat hy ‘n dyspier-besering opgedoen het. Hy sal die wedstryde teen Georgië op die 11de en Bulgarye op die 14de misloop. Die 29-jarige is gister vervang in die 21ste minuut van City se Premierliga-oorwinning oor Brentford en het na die wedstryd bevestig dat hy pyn verduur. Spanje het nie gesê of hulle ‘n speler sal oproep in die plek van die wenner van 2024 se Ballon d’Or nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-917-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-945-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….