Nuus 16:00
BULLETIN 6 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sit tien belangrikste ingrypings uiteen om ekonomiese groei te laat herleef en werk te skep
# Egipte se president loof Trump se plan vir Gaza
# En drie wetenskaplikes wen die Nobelprys vir Medisyne vir hulle ontdekking hoe die immuunstelsel die liggaam beskerm
# Die ANC het die tien belangrikste ingrypings uiteengesit om ekonomiese groei te bevorder en werk te skep. President Cyril Ramaphosa het tydens die afsluiting van die spesiale nasionale uitvoerende komiteevergadering in Boksburg gesê die maatreëls fokus op die uitbreiding van elektrisiteits-infrastruktuur, die herlewing van die chroom- en mangaanbedryf, die bevordering van plaaslike ekonomiese ontwikkeling en die versterking van openbare werk- en vaardigheidsprogramme. Ramaphosa sê die plan sluit ook die versterking van provinsiale ekonomieë en die bevordering van uitvoere onder die Afrika-vryhandelsgebied in:
# Die leier van die GOOD-party, Patricia de Lille, sê Unite for Change verteenwoordig meer as slegs ‘n politieke samesmelting. Sy beskryf dit as ‘n nuwe inklusiewe rigtingwyser voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. De Lille sê die samesmelting van GOOD, Build One South Africa en RISE Mzansi gee aandag aan die versplintering van die opposisie. Sy moedig burgers aan, veral die jeug, om by die strewe na ‘n beter Suid-Afrika aan te sluit:
Nuus uit die buiteland:
# Die Egiptiese president, Abdel Fattah al-Sisi, het sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, se plan vir Gaza geprys. Dit volg terwyl onderhandelaars van Hamas, Israel en Amerika in Egipte saamtrek om die uitruil van gyselaars en gevangenes asook ‘n wapenstilstand te bespreek. Sisi het ‘n toespraak gelewer oor 1973 se oorlog tussen Israel en Egipte wat gelei het tot die beëindiging van die Israelse besetting van die Sinaï-skiereiland. Die Jom Kippoer-oorlog het die weg gebaan vir die Camp David-ooreenkomste van 1979, wat Egipte die eerste Arabiese land gemaak het om amptelik bande met Israel te smee.
# Rugby: ‘n Lid van Engeland se Wêreldbeker-wenspan van 2003, Lewis Moody, is met motorneuronsiekte gediagnoseer. Die 47-jarige, wat in 2005 saam met die Britse en Ierse Leeus getoer het, het uitgevind dat hy die siekte het nadat hy gedurende oefening in ‘n gimnasium ‘n swakheid in sy skouer ondervind het. Spelers soos Joost van der Westhuizen, Doddie Weir en Rob Burrow is die paar jare as gevolg van die siekte oorlede. Moody het aan die BBC gesê die diagnose is ‘n reuse-skok, maar hy fokus daarop om positief te bly:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-551-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-930-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Vanjaar se Nobelprys vir Medisyne is toegeken aan ‘n Japanese en twee Amerikaanse wetenskaplikes wat ontrafel het hoe die immuunstelsel die menslike liggaam beskerm teen duisende verskillende mikrobes wat dit probeer binnedring. Mary E Brunkow, Fred Ramsdell en Shimon Sakaguchi deel die prys vir die identifisering van regulerende T-selle wat as die immuunstelsel se veiligheidswagte optree en voorkom dat immuunselle die liggaam aanval. Hulle bevindinge het gelei tot die ontwikkeling van mediese behandeling wat outo-immuunsiektes kan genees, doeltreffender kankerbehandeling moontlik maak en komplikasies na oorplantings verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….