Nuus 11:00
BULLETIN 6 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Eskom se terugkeer na winsgewendheid bewys die waarde van rigtingvastheid
# Die Hugenote-tonnel in die Boland bly gesluit nadat ‘n bus aan die brand geraak het
# En motorsport: Die MotoGP-kampioen Marquez het moontlik sy sleutelbeen gebreek in die Indonesiese Grand Prix
# President Cyril Ramaphosa sê die finansiële verbetering by Eskom getuig van die krag van vennootskappe, maar ook hoe belangrik dit is om met langtermyndoelwitte vol te hou, selfs in weerwil van kritiek. Die kragverskaffer het ‘n wins van 16-miljard-rand ná belasting vir die volle jaar tot Maart aangeteken, wat sy eerste wins in agt jaar is. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief selfs terwyl Eskom die pad na herstel voortsit, sal die regering die ander pilare van die Energie-aksieplan met ewe veel ywer aanpak.
# Die UDM sê die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Poskantoor is nie die gevolg van onderbefondsing nie, maar van diepgewortelde wanbestuur en ‘n gebrek aan strategiese rigting. Ouditeur-generaal Tsakani Maluleke het verdoemende bevindinge teen die Poskantoor gemaak en die sesde jaar ‘n vrywarings-ouditmening vir die 2024/25-boekjaar gegee. UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê die ouditeur-generaal het ‘n ontstellende prentjie geskets van ‘n instelling wat verlam word deur onreëlmatige uitgawes, swak bestuur en ‘n verbrokkeling van aanspreeklikheid:
# Owerhede in die Wes-Kaap sê die Hugenote-tonnel op die N1 in die Boland bly gesluit. Dit volg nadat ‘n bus Vrydagnag in die tonnel aan die brand geraak en beduidende skade aan die infrastruktuur veroorsaak het. Duisende reisigers wat dié roete gereeld gebruik, is genoodsaak om alternatiewe roetes tussen Worcester en die Paarl te gebruik. Die waarnemende direkteur van Verkeerswetstoepassing in die provinsiale Departement van Beweeglikheid, Antoinette Fennie, sê die tonnel kan nie heropen word voordat strukturele beoordeling en herstelwerk afgehandel is nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, het ‘n nuwe regering aangewys, byna ‘n maand na die aanstelling van premier Sebastien Lecornu. Die belangrikste aanstellings sluit in Bruno Le Maire as die nuwe minister van Verdediging te midde van ‘n uiters sensitiewe tyd van spanning met Rusland oor Oekraïne. ‘n Noue bondgenoot van Macron, Roland Lescure, is die nuwe minister van Finansies wat die moeilike taak het om ‘n besparingsbegrotingsplan vir volgende jaar te lewer. Verskeie sleutelministers bly in hul posisies aan. Opposisiepartye sê die kabinet verteenwoordig ‘n onwelkome voortsetting.
# Motorsport: Die nuut-gekroonde MotoGP-kampioen, Marc Marquez, het vermoedelik ‘n sleutelbeen gebreek in ‘n botsing in gister se Indonesiese Grand Prix. Marco Bezzecchi van Aprilia het probeer om Marquez aan sy binnekant verby te steek, maar het met die Ducati-jaer se agterwiel kontak gemaak en albei het geval. Die nuweling Fermin Aldeguer het toe die wedren gewen. Die Spanjaard, wat in die vorige wedren in Japan sy sewende MotoGP-kampioenskapstitel beklink het, sê hy sal verdere toetse in sy land ondergaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-665-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-935-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….