Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig TymeBank het ‘n uitdaging gerig aan die vyf groot banke en sê hy beoog om in die volgende drie jaar onder die topdrie te wees. Die bank skryf sy sukses hoofsaaklik toe aan strategiese verhoudings met onder meer Pick ‘n Pay, Boxer en die Zionistiese kerk.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig dit het in die hof aan die lig gekom dat die man van wyle ds. Liezel de Jager ‘n bekentenis by die polisie afgelê het oor haar moord. Werner de Jager het glo om vergifnis gepleit tydens sy arrestasie.
Dan skryf die koerant oor die talle nuwe gesiggies wat vanjaar vir die eerste keer skool toe gaan.
En laastens is daar nuus oor die tropiese sikloon Belal wat die eiland Mauritius getref het. Hoewel skade aangerig is, het alles nou weer teruggekeer na normaal.
# Sowetan:
Berig oor ‘n voorval waartydens lede van Tshwane Metropolisie glo ‘n man wat ‘n hartaanval gehad het, hardhandig hanteer het waarna nog ‘n beampte na bewering met ‘n voertuig oor die man gery het.
# En The Citizen:
Skryf oor die moontlikheid dat oudpresident Jacob Zuma se vonnis hom daarvan kan weerhou om weer aan die verkiesing deel te neem.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met De Jager se bekentenis.
Dan skryf die koerant oor die onderwyskrisis in die Vrystaat met 40-persent van die provinsie se graad 10-leerders wat nie in 2023 geslaag het nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens word berig oor die 26-jarige JT Potgieter van Kraaifontein wat op die rugbyveld vooroor gesak en aan ‘n hartaanval beswyk het. Hy het twee jaar gelede ook ‘n hartaanval gehad.
# En Cape Times:
Skryf eerstens alles is in plek vir die 2024-skooljaar wat vandag begin.
En berig president Cyril Ramaphosa het nie ‘n bydrae om te lewer by die Wêreld Ekonomiese Forum nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai se voorsieningskettingdirekteur, Cynthia Ngxesha het ná ‘n skorsing van 30 maande teruggekeer werk toe. Die Plaaslike Bedingingsraad het haar skorsing bestempel as ‘n vermorsing van belastingbetalers se geld.
En tweedens skryf die koerant ‘n groep inwoners van Gqeberha het hul eie lewens in gevaar gestel om mense uit die see te red by Sardiniabaai.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Onafhanklike Verkiesingskommissie het beslis Zuma kan nie aan vanjaar se verkiesing deelneem nie aangesien hy ‘n vonnis van langer as 12 maande opgelê is.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig vullis is besig om op te hoop in Pietermaritzburg se strate omdat die vullisverwyderingsdiens se vragmotors buite werking is.
En skryf die koerant publiseer Vrydag die matriekuitslae.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig grondbelasting vir die boekjare 2017 tot 2023 moet voor 31 Maart vanjaar betaal word.
En skryf die man wat glo twee-miljoen-rand by ’n bank in die noorde van Namibië gesteel het, Nico Hijendepi Redebe het vermoedelik na Angola gevlug.