Nuus 09:00
BULLETIN 6 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM is bekommerd oor die finansiële wanbestuur by die SA Poskantoor
# Meer as 200 stappers is gestrand na ‘n sneeustorm op die Berg Everest
# En tennis: Sinner onttrek oor ’n besering terwyl Djokovic deurdring na die laaste 16 in Sjanghai
# Die UDM sê die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Poskantoor is nie die gevolg van onderbefondsing nie, maar van diepgewortelde wanbestuur en ‘n gebrek aan strategiese rigting. Die ouditeur-generaal Tsakani Maluleke het verdoemende bevindinge teen SAPO gemaak en vir die sesde jaar ‘n vrywarings-ouditmening vir die 2024/2025-boekjaar verkry. UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê die ouditeur-generaal het ‘n ontstellende prentjie geskets van ‘n instelling wat verlam word deur onreëlmatige uitgawes, swak bestuur en ‘n verbrokkeling van aanspreeklikheid:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het sy Ouerskapbeleid-maatstafverslag bekendgestel, wat die kritieke rol van gesinslede in die handhawing van die gesinseenheid te midde van uitdagings beklemtoon. Oktober is Maatskaplike Ontwikkelingsmaand in Suid-Afrika, met vanjaar se tema: “Bou gesinne deur ‘n volhoubare lewensbestaan.” Die departement se waarnemende woordvoerder, Sandy Godlwana, sê gesinne is die hoeksteen van die samelewing en bied die eerste linie van ondersteuning vir kinders, ouer persone en kwesbare groepe:
# ‘n DA-afvaardiging sal ‘n toesigbesoek by die Weilers Farm-kliniek in Kanana Park, suid van Johannesburg vandag, aflê na aanleiding van berigte dat 190 kinders onder vyf verlede jaar vir ernstige wanvoeding behandel is. DA-verteenwoordigers, insluitend Jack Bloom, sal ondersoek instel na waarom vroeë ingryping misluk het, waarom kinders nie toegang tot maatskaplike toelaes of voedselbanke kry nie, en watter maatreëls verdere wanvoeding in die gebied kan voorkom.
# Nagenoeg 350 stappers wat deur ‘n sneeustorm in Tibet aan die hange van Berg Everest gestrand gelaat is, is na veiligheid gelei. Dit volg nadat swaar sneeu die naweek oor die Himalajas uitgesak het. Amptenare sê nagenoeg 200 stappers wat steeds naby die oostelike Kangshung-hang van Everest gestrand is, is in verbinding met redders en sal in groepe na die dorpie Qudang geneem word. Intussen is minstens 47 mense in die aangrensende Nepal sedert Vrydag dood nadat swaar reën grondstortings en oorstromings tot gevolg gehad het.
# Tennis: Die verdedigende kampion Jannik Sinner is gedwing om in die derde ronde van die Shanghai Meesters weens ‘n beenbesering te onttrek. Die Italianer het pyn in die derde stel ondervind voor hy besluit het om nie voort te gaan nie, na hy met 2-3 in die derde stel teen die Nederlander Tallon Griekspoor agter was. Verlede jaar se naaswenner, Novak Djokovic van Serwië het in drie stelle teen die Duitser Yannick Hanfmann gewen om na die laaste 16 deur te dring. Die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard het die wêreld-nommer-vier, Taylor Fritz van Amerika, in twee stelle geklop vir die grootste oorwinning van sy loopbaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23 sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-17 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-25 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-933-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-38-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….