Nuus 08:00
BULLETIN 6 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Maimane sê Suid-Afrika word nie die beste gedien deur ’n verskeidenheid van partye nie
# ‘n Polisiesoektog is aan die gang na die moord op vyf mense in Bronkhorstspruit
# En rugby: Die Leeus ly ’n tweede agtereenvolgende nederlaag in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, sê daar is ‘n dringende behoefte aan verandering, aangesien die land nie die beste gedien word deur soveel verskillende partye te hê nie. BOSA het kragte saamgesnoer met die GOOD-party en RISE Mzansi om een politieke party, Unite for Change, te vorm wat aan die plaaslikeverkiesing van 2026 sal deelneem. Maimane sê plaaslike regering gee hulle die vooruitsig om onder een sambreel iets op die stembrief te plaas wat werk:
# Die adjunkminister van finansies, David Masondo, het die skorsing van Kabelo Rikhotso, hoofbeleggingsbeampte van die Openbare Beleggingskorporasie, as ‘n versigtige, fidusiêre besluit beskryf. Rikhotso, wat hom na verwagting teen bewerings van onbehoorlike gedrag deur ‘n fluitjieblaser sal verdedig, is verlede week voorlopig geskors. Die OBK-raad het beklemtoon die skorsing daarop gemik is om ‘n billike, objektiewe en onafhanklike ondersoek te verseker, en impliseer nie enige bevinding van oortreding in die stadium nie. Masondo sê die ondersoek sal deur goeie bestuur eerder as politiek gedryf word.
# Die Gauteng-polisie het ‘n soektog na twee verdagtes van stapel gestuur na vyf mense Sondag by ‘n taverne in Zithobeni naby Bronkhorstspruit doodgeskiet is. Twee gewapende verdagtes het glo die taverne binnegegaan en ‘n klant van sy gelisensieerde vuurwapen beroof. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê tydens die rooftog het die verdagtes na bewering lukraak losgebrand. Ses mense is gewond. Muridili sê ‘n saak van moord en roof is geopen:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Israel moet ophou om Gaza te bombardeer sodat Hamas uiteindelik gyselaars kan vrylaat en die oorlog beëindig. Afvaardigings van Hamas, Israel en die VSA sal vandag samesprekings in Egipte voer in die hoop om ‘n ooreenkoms te finaliseer gebaseer op president Donald Trump se 20-punt-wapenstilstandplan vir Gaza. Rubio het aan ABC gesê dat onderhandelinge om die oorlog in Gaza te beëindig baie vinnig moet plaasvind, anders word die plan in gevaar gestel:
# Rugby: Die Leeus het hul tweede agtereenvolgende nederlaag in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap gely, na hulle met 22-20 teen Zebre Parma in die tweede ronde in Italië verloor het. Dit het gelyk of Morne Brandon die wenpunte in die 74ste minuut vir die Leeus aangeteken het. Maar ‘n drie in die doodsnikke van Matteo Nocera, verdoel deur Martin Roger Farias, het aan Italiaanse span ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning in die kompetisie besorg. Die onoorwonne Bulle is boaan die VRK-punteleer met tien punte, gevolg deur die Stormers tweede en Munster in die derde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-948-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-920-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….