Nuus 08:00
BULLETIN 4 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is ‘n deurbraak in die vredesproses in Gaza
# COSATU verwelkom die hofuitspraak oor gelyke ouerskapsverlof
# En netbal: Die Proteas is gereed vir die Australiese toetsreeks
# President Donald Trump sê Hamas is gereed vir “blywende vrede” nadat die Palestynse militante ingestem het om alle oorblywende gyselaars vry te laat. Trump het gereageer op ‘n verklaring deur Hamas gister waarin die groep onderneem het om alle oorblywende gyselaars in Gaza, lewend en dood, terug te besorg. Hamas het gesê hulle wil onderhandel om verdere besonderhede van die president se vredesplan te bespreek, insluitend die oorhandiging van die administrasie van die enklawe aan ‘n Palestynse liggaam van onafhanklike tegnokrate. Trump het ook ‘n beroep op Israel gedoen om die bombardering van Gaza onmiddellik te staak.
# Die waarnemende polisieminister, Firoz Cachalia, het volle steun belowe vir die ondersoek na die dood van die voormalige minister van Polisie en die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa. ‘n Span van vyf lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is na Frankryk ontplooi om Franse owerhede te help om Mthethwa se dood te ondersoek. Mthethwa het Dinsdag vanaf die 22ste verdieping van ‘n hotel in Parys geval. Die woordvoerder Kamogelo Mogotsi sê die regering is verbind tot ‘n deeglike en deursigtige ondersoek:
# COSATU verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak wat ‘n groter keuse en gelykheid in kraam- en ouerskapverlof toestaan. Die hof het die Parlement gelas om die Wette op Basiese Diensvoorwaardes en Werkloosheidsversekering te wysig om gelyke dekking vir ouers te verseker. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die uitspraak bekragtig billikheid en buigsaamheid en beskryf dit as ‘n geskiedkundige mylpaal in die stryd vir gelykheid en ordentlike werk:
# Die DA in die Wes-Kaap vier die Breedevallei Munisipaliteit se sukses nadat hy drie nasionale toekennings ontvang het vir goeie bestuur. Die toekennings is by die Nasionale Goeie Regeringstoekennings in Johannesburg deur die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, oorhandig. Dave Bryant van die DA sê hierdie erkenning bewys dat sy benadering tot plaaslike regering resultate lewer:
# En sportnuus:
# Tennis: Novak Djokovic sê hy moes alles uithaal om ‘n moeilike eerste stel te wen en sy mede-veteraan Marin Cilic met 7-6, 6-4 te klop. Hy os daarmee deur na die derde ronde van die Sjanghai-meesters. Die 38-jarige Serwiër mik na ‘n rekord- vyfde titel in Sjanghai, waar hy luid toegejuig is deur ‘n stadion vol Chinese ondersteuners. Die gesamentlike ouderdom van Djokovic en Cilic is 75 jaar en 139 dae, die meeste ooit tussen twee teenstanders in ‘n ATP Meesters 1000-wedstryd.
# En netbal: Die Proteas-span is opgewek voor hul eerste toetswedstryd vandag teen Australië by die Red Energy-stadion. Suid-Afrika hoop om sake om te keer, nadat hulle die Taini Jamison-trofee in Nieu-Seeland verloor het. Kaptein Khanyisa Chawane het in gesprek met SABC Sport haar spanmaats se vasberadenheid geprys om hul merk te maak terwyl hulle voorberei vir die Statebondspele van 2026. Sy vier ook haar 100ste nasionale wedstryd en beskryf dit as ‘n trotse oomblik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….