Nuus 17:00
BULLETIN 3 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onderneem om minister Tau se voorgestelde drie-persent SEB-heffing op ongenoteerde ondernemings teen te staan
# ‘n Agt-jarige in die Oos-Kaap skiet na bewering sy sewe-jarige nefie dood na hy sy pa se vuurwapen in die hande kry
# Kenners vra vir ‘n sterker fokus op tegniese en beroepsopleiding vir die jeug
# Die DA sê hy sal die drie-persent Swartbemagtigingsheffing op ongenoteerde besighede teenstaan, wat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, voorstel. Die party waarsku die heffing sal ‘n las op ondernemings wees, klein besighede benadeel en werkskepping lam lê. Toby Chance van die DA vra vir werklike bemagtiging deur werkskepping en entrepreneurskap, eerder as om ondernemings te dwing om miljarde in staatsbeheerde fondse te stort:
# ‘n Ondersoek word ingestel nadat ‘n sewe-jarige seun in die Oos-Kaap noodlottig geskiet is, na bewering deur sy agt-jarige neef. Die polisie sê die kind het toegang tot die vuurwapen in sy pa se slaapkamer verkry en dit afgevuur, en sy neef is onmiddellik dood. ‘n Moordsaak is teen die agt-jarige aanhangig gemaak, terwyl die pa ‘n aangekla word dat hy nie wapen beveilig het nie. Die seun is nou onder die sorg van maatskaplike werkers. Die pa is met ‘n waarskuwing vrygelaat en sal binnekort in die Mqanduli-Landdroshof verskyn.
# Kenners van hoëronderwysinstellings doen ‘n beroep vir meer ondersteuning vir Tegniese en Beroepsopleiding as ‘n noodsaaklike naskoolse loopbaanrigting. Die kenners het tydens ‘n Universiteite Suid-Afrika-dialoog gesê vakvaardighede is die sleutel tot Suid-Afrika se vaardigheidstekorte en om die toekoms van werkskepping aan te spreek, insluitend die bevordering van Wetenskap-, Tegnologie-, Ingenieurswese- en Wiskunde-onderwys. Die uitvoerende hoof, Phethiwe Matutu, sê duisende matrieks word universiteitstoelating geweier weens beperkte plekke:
# Die linkse regering in Spanje stel voor dat die reg tot aborsie in die grondwet verskans moet word nadat die Munisipale Raad van Madrid besluit het om vrouens in te lig oor die sogenaamde “na-aborsie-sindroom”. Die geskil het ontstaan toe die raad, wat deur die konserwatiewe Popular Party beheer word, ‘n ver-regse voorstel aanvaar wat aandring dat mediese dienste vroue wat ‘n aborsie aanvra, in kennis moet stel dat die sindroom kan lei tot alkohol- en dwelmgebruik, selfmoordgedagtes, en ‘n verhoogde moontlikheid van kanker. Die raad beweer inligting oor die sindroom word “doelbewus weggesteek” en voer aan aborsie is “groot besigheid” bevorder deur feministiese ideologie.
# Rugby: Die Haaie en die Leeus sal probeer om hierdie naweek onoorwonne te bly teen hulle onderskeie opponente met die Verenigde Rugbykampioenskap wat sy tweede ronde bereik. Die Stormers en Bulle sal ook wil voortbou op hulle sterk vertonings in die openingswedstryde. Die manne van KwaZulu-Natal speel vanaand om 9.05 SA-tyd teen die Dragons in Wallis. Die Stormers skop die naweek se aksie af in Kaapstad om 7nm teen die Ospreys terwyl die Bulle môre in Pretoria teen Leinster, die kampioene, speel en die Leeus speel Sondag teen Zebre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-363-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-876-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….