Nuus 16:00
BULLETIN 3 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cachalia sê georganiseerde misdaadsindikate neem toe in Suid-Afrika
# Forum sê Cyril Ramaphosa en Senzo Mchunu moet bedank ná verdoemende onthullings by Madlanga-kommissie
# En, Krieket: Die Proteas-vrouespan begin hulle Eendagwêreldbekerveldtog op ‘n rampspoedige noot
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê georganiseerde misdaadsindikate neem toe in Suid-Afrika en die regering moet sy wetstoepassingsagentskappe versterk om dit te bekamp. Hy het vandag gepraat tydens die oorhandiging van helikopters en gepantserde voertuie aan gespesialiseerde eenhede by die polisie-akademie in Pretoria. Cachalia sê sedert hy twee maande gelede oorgeneem het, werk hy hard om die vertroue in wetstoepassing weer op te bou:
# Die Activists and Citizens Forum se raad aan president Cyril Ramaphosa en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, is om onmiddellik te bedank om die land te red van verdere verleentheid. Dit volg nadat verdoemende onthullings by die Madlanga-kommissie aan die lig gebring is oor misdaadsindikate wat die strafregstelsel geïnfiltreer het. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem:
# Die GOOD-party verwelkom die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak wat die regering se poging verwerp om die apartheids-era skadevergoedingsaak van 167-miljoen-rand te vertraag. Regter Nicoline Janse van Nieuwenhuizen het gesê verdere vertragings dien geen geregtigheid nie, veral nie vir bejaarde slagoffers nie, en het die regering gelas om die koste te betaal. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die uitspraak is die sleutel om die staat aanspreeklik te hou en geregtigheid te laat seëvier ná dekades van inmenging deur die Waarheids- en Versoeningskommissie:
# Dame Sarah Mullally is aangewys as die eerste vroulike Aartsbiskop van Kantelberg in die byna 500-jaar geskiedenis van die Kerk van Engeland. Sy het in haar eerste toespraak belowe dat sy in haar nuwe rol sal luister na oorlewendes en die kwesbares. Sy het gesê haat en rassisme van enige aard mag nie toegelaat word om mense uitmekaar te skeur nie. Die 63-jarige Mullally was vir sewe jaar die Biskop van Londen. Die Kerk was byna ‘n jaar sonder ‘n aartsbiskop, nadat Justin Welby bedank het oor sy versuim om ‘n reeks-kindermisbruiker aan te meld.
# Krieket: Die Proteas-vrouespan het hul Wêreldbeker-veldtog in Indië op die slegste moontlike manier begin en met tien paaltjies teen Engeland verloor. Engeland het die loot gewen en die Proteas ingestuur om te kolf. Suid-Afrika se toporde het ineengestort en slegs Sinalo Jafta met 22 lopies kon dubbelsyfers behaal. Engeland het die Proteas in die 21ste boulbeurt vir slegs 69 lopies uitgehaal. Linsey Smith het die grootste slagting veroorsaak en drie paaltjies vir slegs sewe lopies in vier boulbeurte platgetrek. Suid-Afrika kom Maandag teen Nieu-Seeland te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-455-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-862-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….