Nuus 11:00
BULLETIN 3 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa vra dat plaaslike regering die herstelknoppie druk om dienslewering te herstel
# Die staatsdiensvakbond eis optrede oor die groot aantal vakatures by die Departement van Water en Sanitasie
# En eerste minister Starmer sê Brittanje moet haat teen Jode uitwis
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die regering wil ‘n herstelknoppie druk om dienslewering en finansiële bestuur te verbeter. Hy het by die Plaaslike Regering-Indaba in Midrand, Gauteng, gesê die bekamping van korrupsie, aanstelling van gekwalifiseerde beamptes, en die versterking van metro’s, is die sleutel tot die herstel van doetreffendheid, die lok van beleggings, en werkskepping. Hy het beklemtoon plaaslike regering moet sy rol aan die inwoners vervul:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is diep bekommerd oor die Departement van Water en Sanitasie die hoogste vakantheidsyfer in die staatsdiens het. Regeringsdepartemente het sowat 100-duisend vakante betrekkings met hierdie departement wat ‘n vakantheidsyfer van 23,89-persent het. Dis meer as die Departement van Openbare Werke en Administrasie se teiken van agt-persent. Claude Naicker van die vereniging sê dis skokkend dat die Departement van Water en Sanitasie sedert die 2023/2024 boekjaar 500-miljoen-rand aan konsultante betaal het:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het die onlangse optrede van vigilantegroepe, insluitend Operasie Dudula, teen immigrante skerp veroordeel. Die groepe het migrante en Suid-Afrikaners sonder dokumente hoofsaaklik in Gauteng en KwaZulu-Natal geteiken, hulle toegang tot nodige dienste geweier en hulle gekeer om regeringsklinieke en hospitale te besoek. Mbulelo Mandlana van die SAKP sê die optrede, wat herinner aan die apartheidsera met openbare teistering en eise van identiteitsdokumente, is nie ‘n oplossing nie en bring net meer verdeling.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê die land moet ‘n toenemende vlaag anti-Semitisme oorwin. Twee mense is gister by Heaton Park-sinagoge in Manchester dood toe ʼn motor hulle getref en hulle met messe gesteek is. Vier mense is gewond. Die polisie het die aanvaller, wat as die 35-jarige Jihad Al-Shamie geïdentifiseer is, op die toneel doodgeskiet. Drie mense wat verdink word van die opdrag, voorbereiding en aanhitsing tot terrorisme, is gearresteer. Starmer beskryf die aanval as grusaam:
# Sokker: Afskoptye kan verskuif word in volgende jaar se Wêreldbeker in die VSA, Kanada en Mexiko weens kommer oor die hitte. Dit volg nadat temperature van tussen 30- en 40-grade Celsius in vanjaar se Klubwêreldbeker in Amerika aangeteken is, wat tot kommer oor spelers se gesondheid gelei het. Die president van die sport se beheerliggaam in Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese Eilande, Victor Montagliani, het gesê die intense somerhitte sal in ag geneem word tydens die skedulering van wedstryde. Die toernooi begin op 11 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-954-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-860-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….