Nuus 07:00
BULLETIN 3 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana spreek die tekort as gevolg van Amerikaanse hulpbesnoeiings aan
# Die ouditeur-generaal doen ‘n beroep vir ’n professionele plaaslike regering
# En die Withuis sê Trump sal ‘n rooi lyn trek vir die Gaza-voorstel
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n Spesiale Begrotingswet in die Parlement voorgestel om 754-miljoen-rand toe te ken ná tekorte ontstaan het sedert Amerika befondsing aan die gesondheidsektor gestaak het. Die Amerikaanse Hooggeregshof het verlede week ʼn bevel verleng wat president Donald Trump toelaat om hulp aan die buiteland te staak. Dit raak sowat 40 gesondheidsprojekte in Suid-Afrika wat deur USAID befonds word. Dit beteken die dienste van ongeveer agtduisend-493 personeellede wat deur die Amerikaanse president se noodplan vir vigs-verligting befonds en by MIV-hulp betrokke is, word gekanselleer.
# Die Ouditeur-Generaal Tsakani Maluleke het ‘n beroep gedoen op dringende verantwoordbaarheid en hervorming in munisipaliteite en gewaarsku teen die kultuur van straffeloosheid. Maluleke het by die Plaaslike Regeringsindaba in Midrand, Gauteng, gepraat en ongemagtigde uitgawes van meer as 31-miljard-rand bekendgemaak. Maluleke het verwys na water- en elektrisiteitsverliese van 37-miljard-rand en ondoeltreffende toesigstrukture. Sy dring aan op sterker staatsbestuur en professionalisering om skaars openbare hulpbronne te beskerm en openbare vertroue te herstel:
# Die DA sê Woensdag se optrede in Kaapstad waar die polisie klopjagte uitgevoer en vermeende ampsmisdrywe deur amptenare ondersoek het, bewys die metro sal nie misdaad of korrupsie verdra nie. Die polisie het lasbriewe uitgevoer by 26 persele in Kaapstad, en dit hou verband met vermeende tenderbedrog van 1,6-miljard-rand. Willie Aucamp van die DA sê die enigste manier waarop Suid-Afrika van korrupsie ontslae gaan raak, is om sake aan die polisie te oorhandig sodra enige agterdog oor kwessies ontstaan:
# Die Withuis sê president Donald Trump verwag dat Hamas sy vredesvoorstel vir Gaza aanvaar. Die 20-punt vredesplan, wat Israel aanvaar het, sluit in die vrylating van alle gyselaars, die onttrekking van Israelse magte uit Palestynse gebied, en die ontwapening van Hamas. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê indien Hamas die plan verwerp, sal daar ernstige gevolge wees:
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Louis Oosthuizen, Herman Loubser, Michael Hollick en Richard Sterne het almal ʼn goeie begin gehad by die Alfred Dunhill Links-kampioenskap in Skotland. Die vier is net twee houe agter die voorlopers, Matthew Jordan van Engeland, die Amerikaner Ryan Brehm en Darius van Driel van Nederland op nege onder baansyfer. Van hierdie vier het Sterne naaste daaraan gekom om die titel te wen toe hy in 2016 gelykop tweede was. Branden Grace het die toernooi in 2012 gewen, die enigste Suid-Afrikaner wat dit nog kon regkry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-227-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-852-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die nasionale kommissaris, Fannie Masemola, oorhandig vandag helikopters en pantservoertuie aan gespesialiseerde polisie-eenhede in Pretoria. Die nuwe hulpbronne sal wetstoepassing, misdaadopsporing, asook as sigbare wetstoepassing en operasies verbeter. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê dit sal die SAPD se vermoë versterk om Suid-Afrikaners te dien en te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….