Nuus 16:00
BULLETIN 2 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Frankryk sal Sondag ‘n voorlopige verslag oor die oorsaak van Nathi Mthethwa se dood lewer
# Twee mense sterf in ‘n aanval buite ‘n sinagoge in Manchester
# En rugby: Thomas du Toit geniet sy verantwoordelikhede in die Springbokspan
# Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Alvin Botes, sê die Franse polisie is besig om hulle ondersoek na die dood van die Suid-Afrikaanse ambassadeur, Nathi Mthethwa, af te handel. Hy het gepraat buite Mthethwa se woning in Kwambonambi, KwaZulu-Natal. Botes sê die lykskouings-verslag sal die oorsaak van sy dood uitwys, met die voorlopige verslag wat Sondag verwag word. Hy bevestig dat die repatriasie binne tien dae sal plaasvind. Botes waarsku teen bespiegelings:
# Die ANC sê hy sal alle lede wat by korrupsie betrokke is, isoleer en dissiplineer. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het op ‘n nuuskonferensie oor die uitkomste van die nasionale werkkomiteevergadering gesê korrupsie ondermyn dienslewering, beroof die armes en verraai die waardes van die party. Hy het bygevoeg die wat wandade pleeg, staan alleen en sal die gevolge dra en nie agter die ANC kan wegkruip nie, omdat die party daartoe verbind is om korrupsie bloot te lê en uit te roei:
# Twee mense is dood en drie gewond in ‘n motor- en mesaanval buite ‘n sinagoge in Manchester in die noordweste van Engeland. Die polisie sê die vermeende aanvaller is deur beamptes geskiet en vermoedelik dood. Dit kon egter nog nie bevestig word nie as gevolg van items op sy persoon, met ‘n bomopruimingseenheid wat op die toneel was. Die drie gewondes is in ‘n ernstige toestand.
# Rugby: Die Springbok-stut Thomas du Toit geniet sy verantwoordelikhede in die nasionale span voor Saterdag se toets teen die Pumas in London. Die 30-jarige was in die opdrafspan in die laaste vier toetse: in Kaapstad teen Australië, in Auckland en Wellington teen Nieu-Seeland en verlede week in Durban teen Argentinië. Hy is in die tweede helfte van die laaste drie toetse vervang deur een van die wêreld se beste skrum-werkers, Wilco Louw. Du Toit sê hy is baie gemaklik in die span en met wat van hom verwag word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-38-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-882-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-92-sent per vat.
# En laastens, honderde unieke Cederbergse plekname gaan nou onthou word danksy die werk van die veteraan-kartograaf Peter Slingsby. Hy het pas sy boek bekendgestel: Cederberg – The Book, met sowat 500 name wat eers net in die omgangstaal bewaar is. Dit sluit name in soos Slangbosfontein, Vogelgesang en Jakkalskop. Slingsby sê name is noodsaaklik vir kulturele erfenis en mense se geskiedenis. Volgens hom beskerm die boek ‘n plek vir toekomstige geslagte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….