Nuus 14:00
BULLETIN 2 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra die onmiddellike vrylating van die afgevaardigdes van die Global Sumud-flottielje
# Die Gautengse polisie begin met ‘n soektog ná ‘n noodlottige skietvoorval by die Milpark-hospitaal
# En die DA sê om baba-redders as misdadigers te verklaar sal tot die onnodige dood van honderde babas lei
# President Cyril Ramaphosa het die Israelse regering gevra vir die vrylating van Suid-Afrikaners en ander burgers wat ontvoer is toe Israelse owerhede die Global Sumud-flottielje onderskep het. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die flottielje bestaan uit humanitêre vaartuie wat hulp aan Gaza wil lewer. Hy sê Suid-Afrikaners wat aan boord van die flottielje was sluit in Nkosi Zwelivelile Mandela, Zukiswa Wanner en Reaaz Moola, en bevestiging oor die ontvoering van Zaheera Soomar, Fatima Hendricks en Carrie Shelver is nog hangend.
Die GOOD-party sê intussen die Israelse regering se gebruik van verhongering as wapen, die vernietiging van burgerlike infrastruktuur en die teiken van hulpkonvooie is ‘n skending van internasionale wet. Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, die Sweedse klimaatsaktivis Greta Thunberg en ander aktiviste was aan boord van die konvooi hulpskepe wat na Gaza op pad was. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hulle eis die onmiddellike vrylating van die aktiviste:
# Die Gautengse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur nadat ‘n 45-jarige man by die Milpark-hospitaal in Johannesburg doodgeskiet is. Die slagoffer is in die parkeerterrein aangeval nadat hy glo ‘n vriend gaan besoek het. Die rede vir die skietery is tans onbekend. Polisie-woordvoerder Tinswalo Sibeko het bevestig ‘n moordsaak is geopen en die ondersoek duur voort. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
# Die DA sê om baba-redders as misdadigers te verklaar sal tot die onnodige dood van honderde babas lei. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling wil die Kinderwet aanpas om die veilige weggee van babas soos kinderverlating te hanteer. Die party voer aan die stap is roekeloos en ongrondwetlik. Die DA-lid, Alexandra Abrahams, waarsku sonder ‘n veilige proses sal meer babas in onveilige plekke soos stortingsterreine, velde en rioolpype gelos word:
# Krieket: Mohammed Siraj en Jasprit Bumrah het met sewe paarltjies tussen hulle Indië se boul-aanval gelei en die Wes-Indiese Eilande vir 162 uitgehaal op dag een van die eerste toets. ‘n Uitgedunde Windie-span het die loot gewen in Ahmedabad, maar danksy Indië se verbete aanval is die besoekers in die tweede skof in die 45ste boulbeurt uitgeboul. Siraj het met sy terugkeer vier vir 40 aangeteken, en daarmee sy toetspaaltjies vanjaar tot 27 verhoog. Bumrah het drie paaltjies vir 42 lopies geneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-708-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-881-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….