Nuus 12:00
BULLETIN 2 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ATM vra die onmiddellike vrylating van Suid-Afrikaanse aktiviste wat deur Israelse magte aangekeer is
# Die Solidariteit-beweging waarsku die ANC se voortgesette aanvalle op Amerika kan tot nog straftariewe lei
# En rugby: Damian de Allende verwag ‘n groot aanslag van die Pumas op Twickenham
# Die African Transformation Movement vra die Suid-Afrikaanse regering om onmiddellik die vrylating van Mandla Mandela en ander Suid-Afrikaanse aktiviste te bewerkstelling. Die Israelse Vloot het vaartuie op pad na Gaza onderskep en die aktiviste aan boord aangekeer, insluitend die Sweed Greta Thunberg. Die vaartuie met humanitêre hulp is deel van die Global Sumud-flottielje. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die aktiviste se motivering is jammerhartigheid en eensgesindheid met die mense van Gaza:
# Die Afrika Mayibuye Movement veroordeel die uitbuiting van pasiënte en gesondheidswerkers by die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni, Gauteng, nadat sindikate na bewering meer as twee-miljard-rand gesteel het met behulp van korrupte gesondheidsamptenare. Die party vra dringende vervolging, volle terugvordering van die gesteelde fondse en verantwoording vir politieke leiers wat toegelaat het dat korrupsie floreer. Mayibuye se woordvoerder, Sydney Baloyi, sê hospitale moenie gebruik word vir korrupte amptenare om hulself te verryk nie.
# Die United Democratic Movement sê hy het ‘n amptelike klagte by die Menseregtekommissie ingedien teen die omstrede mediafiguur, Ngizwe Mchunu. Die 44-jarige Mchunu loop onder kritiek deur nadat hy ʼn video van homself aanlyn geplaas het waarin hy neerhalende aanmerkings maak oor foto’s van ʼn homoseksuele paartjie in tradisionele klere wat soos ʼn veldbrand versprei het. Yongama Zigede van die UDM sê in plaas daarvan om eenheid te bewerkstellig, sleep Mchunu se woorde die land terug na verdeeldheid en haat:
# Die Solidariteit-beweging sê die Amerikaanse regering raak al meer gefrustreerd met Suid-Afrika se gebrek aan politieke wil om ʼn handelsooreenkoms te bereik. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hulle het in gesprekke met president Donald Trump se administrasie vordering gemaak oor ʼn handelsooreenkoms. Die Solidariteit-beweging se voorsitter, Flip Buys, sê die ANC is uiters roekeloos om Amerika die harnas in te jaag en waarsku dit kan tot verdere straftariewe teen Suid-Afrika lei. Hy sê die land kan eenvoudig nie nog skade aan die ekonomie bekostig nie.
# Rugby: Die Springbok-senter Damian de Allende verwag ʼn taai en fisiese stryd teen Argentinië wanneer die Rugbykampioenskap Saterdag op Twickenham afgesluit word. Suid-Afrika het verlede naweek in Durban ʼn skitterende oorwinning van 67-30 oor die Pumas behaal. Die Bokke is boaan die Kampioenskaps-punteleer. Hulle het een punt meer as Nieu-Seeland wat vroeër Saterdag in Perth teen Australië uitdraf. De Allende sê albei spanne sal goed ondersteun word in Londen, al is dit neutrale grond:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-586-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-869-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….