Nuus 11:00
BULLETIN 2 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Solidariteit-beweging waarsku die ANC se voortgesette aanvalle op Amerika kan lei tot nog strafmaatreëls
# Die Referendum-party verwelkom Malema se skuldigbevinding in sy vuurwapensaak
# Die Australiese sampioenmoordenaar gaan teen haar skuldigbevinding appelleer
# Die Solidariteit-beweging sê die Amerikaanse regering raak al meer gefrustreerd met Suid-Afrika se gebrek aan politieke wil om ‘n handelsooreenkoms te bereik. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hulle het in gesprekke met president Donald Trump se administrasie vordering gemaak oor ʼn handelsooreenkoms. Die Solidariteit-beweging se voorsitter, Flip Buys, sê die ANC is uiters roekeloos om Amerika die harnas in te jaag en waarsku dit kan tot verdere straftariewe teen Suid-Afrika lei. Hy sê die land kan eenvoudig nie nog skade aan die ekonomie bekostig nie.
# Die Referendum-party het Julius Malema se skuldigbevinding verwelkom as lank-uitstaande aanspreeklikheid vir sy dreigemente en gewelddadigheid. Die Landdroshof in Oos-Londen het die leier van die EFF skuldig bevind op vyf aanklagte, onder meer van die afvuur van ‘n wapen in ‘n openbare plek. Hy het in 2018 ‘n wapen afgevuur tydens die party se vyfde verjaardagsviering in Mdantsane. Phil Craig van die Referendum-party sê Malema is nie die oorsaak van Suid-Afrika se dieperliggende probleme nie, maar ‘n simptoom daarvan:
# President Cyril Ramaphosa sal die hoofrede lewer tydens die galadinee van die plaaslike regeringsindaba in Gauteng. Die indaba bring die regering-, handel-, arbeid-, akademiese en burgerlike samelewingsektore bymekaar om ‘n omkeerstrategie vir munisipaliteite te beplan. Swak oudit-uitslae dui op regeringsmislukkings en die doel van die vergadering is om openbare vertroue deur aanspreeklikheid, etiese leierskap en toesig te herstel. Die Toekennings vir Goeie Bestuur in Plaaslike Regering sal ook oorhanding word.
Nuus uit die buiteland:
# Die veroordeelde Australiese moordenaar Erin Patterson gaan appelleer teen haar skuldigbevinding aan moord op drie mense met giftige sampioene. Die 51-jarige is verlede maand tot lewenslange tronkstraf gevonnis met ‘n verbod op parool vir 33-jaar. ‘n Jurie het haar skuldig bevind aan die moord op drie familielede en poging tot moord op ‘n vierde nadat sy in 2023 aan hulle Beef Wellington met giftige sampioene voorgesit het. Sy het onskuldig gepleit. Patterson se regspan het 28 dae waarin hulle die aansoek om appèl moet finaliseer.
# Rugby: Die Springbok-senter Damian de Allende verwag ʼn taai en fisiese stryd teen Argentinië wanneer die Rugbykampioenskap Saterdag op Twickenham afgesluit word. Suid-Afrika het verlede naweek in Durban ʼn skitterende oorwinning van 67-30 oor die Pumas behaal. Die Bokke is boaan die Kampioenskaps-punteleer. Hulle het een punt meer as Nieu-Seeland wat vroeër Saterdag in Perth teen Australië uitdraf. De Allende sê albei spanne sal goed ondersteun word in Londen, al is dit neutrale grond:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-693-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-868-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….