Nuus 08:00
BULLETIN 2 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê die regering fokus op die verlaging van elektrisiteitskoste
# Die VF Plus sê die vertraging in Malema se vonnisoplegging is teleurstellend
# En die Israelse weermag onderskep verskeie skepe met hulp op pad na Gaza
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering fokus op die verlaging van elektrisiteitskoste omdat hoë koste op huishoudelike inkomste invreet. Die koste van elektrisiteit het van 2007 tot 2024 met 937-persent gestyg. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het onlangs in die spervuur beland met die bekentenis van ‘n fout van 54-miljard-rand in Eskom se tariefbepaling vir die huidige en volgende twee boekjare wat van verbruikers verhaal sal word. Ramokgopa het aan die SABC gesê hoë elektrisiteitspryse maak ook sakeondernemings minder mededingend:
# Die Vryheidsfront Plus het die EFF-leier Julius Malema se skuldigbevinding verwelkom. Hy sê egter die vonnisoplegging wat tot 23 Januarie 2026 uitgestel is, is teleurstellend aangesien geregtigheid vinnig moet geskied. Die Oos-Londense Landdroshof het Malema in sy vuurwapenverhoor skuldig bevind op al vyf aanklagte, maar sy medebeskuldigde en gewese lyfwag, Adriaan Snyman, is vrygespreek. Malema is skuldig bevind in die 2018-vuurwapensaak nadat daar op video gesien kan word hoe hy ‘n geweer afvuur tydens ʼn EFF-verjaardagsaamtrek in Mdantsane. Die VF Plus sê die uitspraak bewys niemand is bo die reg verhewe nie.
# Regslui vir Menseregte sê die nasionale ondersoek na kleinskaalse mynbou en polisie-optredes is ’n deurslaggewende stap in die rigting van aanspreeklikheid. Die ondersoek is gister in Stilfontein in Noordwes deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bekendgemaak. Jessica Lawrence van die organisasie sê die ondersoek sal die menseregteskendings ontbloot wat verbind word met Operasie Vala Umgodi, waartydens 87 mense dood en meer as 280 getraumatiseerd is:
# Die Israelse weermag het sowat 20 skepe wat deel is van die Global Sumud Flotilla op pad na Gaza onderskep. Aktiviste aan boord, insluitend die Sweedse klimaataktivis Greta Thunberg, Nelson Mandela se kleinseun Mandla Mandela, en die aktrise Susan Sarandon, is aangehou. Israel se ministerie van Buitelandse Sake sê die vloot het die vaartuie gewaarsku om van rigting te verander omdat hulle ʼn aktiewe oorlogsone genader het. Hy sê almal aan boord is na ʼn Israelse hawe oorgeplaas. Die Global Sumud Flotilla sê die onderskepping is onwettig.
# Krieket: Australië het die verdediging van hul Vroue-wêreldbekertitel teen Nieu-Seeland met ʼn oortuigende sege van 89 lopies afgeskop op die Holkar-stadion in Indore. Die veelsydige Ashleigh Gardner het 115 van 83 balle aangeteken wat haar tweede eendagwedstryd-honderdtal is, en bygedra tot Australië se telling van 326. In antwoord daarop was kaptein Sophie Devine se 112 nie genoeg nie en Nieu-Seeland was op 237 almal uit nadat Sophie Molineux en Annabel Sutherland elkeen drie paaltjies platgetrek het. Vandag takel Bangladesj en Pakistan mekaar in Colombo.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-74-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-869-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….