Nuus 07:00
BULLETIN 2 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê dis tyd vir beslissende beleidsverskuiwings
# Rugby: Die Leeus verwelkom drie sleutelspelers terug voor hul Zebre-wedstryd in Italië
# En ten slotte, die wêreldbekende diere-aktivis Jane Goodall is oorlede
# Die ekonoom Frederick Mitchell sê om betekenisvolle ekonomiese vordering te ondersteun, moet Suid-Afrika sy plaaslike ekonomiese beleid en sy internasionale houding verander. Suid-Afrika se ekonomie het in die tweede kwartaal vanjaar slegs 0,8-persent gegroei. Mitchell sê om Suid-Afrika se ekonomiese potensiaal te ontsluit, vereis ‘n ondubbelsinnige ekonomiese bloudruk. Hy sê die bloudruk moet onder meer handelstoegang tot belangrike markte, veral Amerika, beveilig en uitbrei, belasting verlaag en beperkende regulasies ophef.
# Die Suid-Afrikaanse Brouerye sê hy is vol vertroue dat sy herstruktureringsproses in wese en wat prosedure betref, regverdig is. Dit volg nadat die Arbeidshof in Johannesburg ʼn dringende aansoek van die Food and Allied Workers’ Union vir ʼn interdik teen afleggings by die SAB, van die hand gewys het. Die maatskappy besnoei 233 werkers by plaaslike pakhuise. SAB sê hulle doen die herstruktureringsproses om bedryfsdoeltreffendheid in ʼn uitdagende makro-ekonomiese omgewing te verbeter.
# Die Gautengse Provinsiale Regering finaliseer ‘n alternatiewe perseel vir die Akasia-polisiestasie om personeelverblyf te verbeter en wetstoepassingsdienste te versterk. Die regeringswoordvoerder in Gauteng, Elijah Mhlanga, sê premier Panyaza Lesufi het bevestig die nuwe perseel sal aandag skenk aan die infrastruktuur-uitdagings wat dienslewering belemmer het. Hy sê die verkryging sal na verwagting teen Desember voltooi wees, met hervestiging wat in fases sal volg:
# Die Deense eerste minister, Mette Frederiksen, sê Europa is in die gevaarlikste situasie sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Dit volg ná ʼn reeks vermeende Russiese skendings van die Europese Unie se lugruim die afgelope weke, wat Denemarke, Pole en Estland insluit. Moskou het dit ontken. Frederiksen waarsku Europese lande om verder as ʼn nasionale perspektief te kyk en verdediging as ʼn gemeenskaplike verantwoordelikheid te sien:
# Rugby: Die Leeus verwelkom drie sleutel-spelers terug voor Sondag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Zebre in Italië. Die gereelde kaptein, Francke Horn, die uitstekende doelskopper Chris Smith en die senter Eduard Keyter is na beserings terug in die Johannesburgse span wat verlede week in die openingsronde teen Cardiff verloor het. Zebre het die Skotse span Edinburgh in die eerste ronde geklop en die Leeus se verdedigings-afrigter, Jaque Fourie, besef die Italianers gaan Sondag ‘n groot uitdaging op hulle tuisveld wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-541-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-864-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die wêreldbekende primaatkenner en bewaringskundige, Jane Goodall, is op 91-jarige leeftyd dood. Sy is in Kalifornië aan natuurlike oorsake dood tydens ʼn toer in Amerika. Sy word beskou as die voorste kenner van sjimpansees. Tydens haar loopbaan van meer as 60 jaar het sy nie net grense vir vroue uitgebrei nie, maar ook die manier waarop wetenskaplikes diere bestudeer, verander. Die Jane Goodall Instituut sê haar ontdekkings as ʼn etoloog, het ʼn omwenteling in wetenskap gebring, en sy het haar onverpoos beywer vir die beskerming en herstel van die natuurlewe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….