Nuus 06:00
BULLETIN 2 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola wag vir die volledige ondersoek na Nathi Mthethwa se dood
# Hendrick Makaneta sê die jeug moet leer uit Malema se skuldigbevinding
# En president Ramaphosa sal vandag geloofsbriewe van 18 nuwe ambassadeurs ontvang
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering wag op ‘n ondersoek-verslag uit Frankryk na die dood van Suid-Afrika se ambassadeur, Nathi Mthethwa, in Parys. Hy is dood aangetref naby die Hyatt-hotel nadat hy Maandag as vermis aangegee is. Lamola het aan die SABC gesê die proses om sy oorskot te repatrieer is tans nie seker nie. Hy wys ook op die rol wat Mthethwa gespeel het om die twee lande se bande te verstewig:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta het die jeug gevra om na te dink, ná die skuldigbevinding van die EFF-leier Julius Malema in sy vuurwapenverhoor by die Landdroshof in Oos-Londen. Makaneta sê die uitspraak is ‘n herinnering dat vryheid sonder wet wanorde is, en dat geen leier bo aanspreeklikheid verhewe is nie. Hy moedig jong mense aan om beginselvas te bly, en beklemtoon dat demokrasie nie met slagspreuke gehandhaaf word nie, maar deur verantwoordelikheid te aanvaar:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê as die brug tussen burger en staat, is die uitdaging vir parlemente wêreldwyd om hoop in doelgerigtheid en belofte in aksie te verander. Sy het die geleentheidsrede gelewer by die G20 Parlementêre Speakers-beraad wat in Kaapstad gehou is. Kubayi sê wêreldwye solidariteit is ver verwyderd van die alledaagse werklikhede soos toegang tot werk, gesondheidsorg, onderwys en ‘n goeie lewensgehalte. Sy sê dis parlemente se plig om instellings nader aan die mense te bring en vertroue te herstel.
# Die Global Sumud-flottielje doen ‘n beroep op die internasionale gemeenskap om dringende stappe te doen om Israel se blokkade van Gaza te beëindig. Aktiviste en kenners van die Verenigde Nasies beskryf die blokkade as onwettig en ‘n vorm van gesamentlike straf wat voedsel, brandstof, mediese voorrade en humanitêre hulp vir meer as twee-miljoen mense beperk. Thiago Ávila van die flottielje versoek regerings en organisasies om Israel aanspreeklik te hou, hulpsendings te beskerm en op te hou om praktyke te ondersteun wat die humanitêre krisis verleng:
# Krieket: Die ervare Protea-kolwer Tazmin Brits glo haar jong spanmaat, Karabo Meso, sal die wêreld se aandag trek op die Wêreldbekertoernooi vir vroue in Indië en Sri Lanka. Daar word verwag dat die 18-jarige paaltjiewagter in haar eerste groot toernooi sal speel nadat sy haar internasionale buiging op 16-jarige ouderdom gemaak het. Die 34-jarige Brits sê sy het Meso se groei persoonlik waargeneem by die Lions in Johannesburg en glo die toernooi sal haar op die wêreldverhoog plaas. Die Proteas begin hulle veldtog môre teen Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-229-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-862-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa hou vandag ‘n Geloofsbrief-seremonie in Pretoria. Die president sal geloofsbriewe ontvang vir aangewese sendinghoofde wat 18 lande verteenwoordig, insluitend Algerië, Spanje, Chili, Pakistan, Thailand, Argentinië, Swede en Zambië. Hierdie amptelike diplomatieke dokumente is die ambassadeurs se formele akkreditasie in Suid-Afrika. Die seremonie onderskryf Suid-Afrika se verbintenis tot die versterking van internasionale betrekkinge en verbeterde bilaterale samewerking met lande in Afrika, Asië, Europa en Latyns-Amerika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….